André Swiegers
Hy het moeite gedoen om die gaste spesiaal te laat voel

Op ’n soel Oktoberaand – Donderdag, 25 Oktober – het die alombekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, André Swiegers, ’n draai in Amsterdam gaan maak.

André Swiegers het besoek aan die gemeenskap van Amsterdam gebring ten bate van die SAVF Fanie Lombard, ’n behuisingskema in Amsterdam wat bekostigbare behuising aan senior burgers voorsien.

Ter verwelkoming het Zenobia Viviers, Voorsitter van die SAVF Fanie Lombard en Mari Louw, Streeksbestuurder, die gaste ingelig oor die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie in ’n geheel en daar is ook verskeie uitdagings genoem wat die SAVF Fanie Lombard Tehuis tans in die gesig staar.

André Swiegers
Andre Swiegers het seker gemaak dat sy gehoor in vervoering bly

Die gaste het die wonderlike atmosfeer, smaaklike kos en musiek van hoogstaande gehalte terdeë geniet en André het tot laat toe saam met al die gaste gekuier. Besoekers kon beslis nie uitgepraat raak oor hierdie talentvolle kunstenaar nie!

Met liedjies soos die gewilde Blou, Eva se lyf, Jammer om te hoor, Sweet Caroline, Me and Bobby McGee en Sound of Silence, is die gehoor betower. Bestuurslede van die SAVF Fanie Lombard Tehuis bedank elke gas hartlik vir hul belangstelling, teenwoordigheid en ondersteuning.

’n Spesiale woord van dank word ook aan André Swiegers gerig wat die aand vir elkeen onvergeetlik gemaak het. Sonder hulp en ondersteuning vanaf die publiek, sal soortgelyke gesellighede nie moontlik wees nie, daarom word elkeen wat bydraes gemaak het en op ’n gereëlde basis ook die SAVF Fanie Lombard Tehuis ondersteun, opreg bedank.