Protesaksies op die N2, naby Ermelo
Klein skooltjie in n woongebied wat ook aan die brand gesteek is (foto krediet Ermelo Insig)

Vanaf Woensdag, 10 Oktober 2018, is mense wat op die N2 na Ermelo reis gewaarsku omtrent gewelddadige protesaksies en dat ’n vragmotor aan die brand gesteek is om die pad te versper.

Gedurende die protesaksies en aand van 10 Oktober, is buitebande aan die brand gesteek en klippe gepak om die pad vanaf Piet Retief na Ermelo (naby die Acasia woongebied) te versper.

Daar word beweer dat die inwoners ongelukkig is oor swak dienslewering. Die Highvelder het op die betrokke dag, omstreeks 21:35, ’n nuusberig op sosiale media gepubliseer waarin genoem is dat skote afgevuur is en dat Noodpersoneel op ‘n gereedheidsgrondslag is.

Die betrokke partye het hul hande vol gehad om die brandende vragmotor te blus. Op daardie stadium kon daar nie met sekerheid gesê word of die geweerskote dié van oproeriges of dié van die polisie was nie. Ambulanse was ook sigbaar op die toneel.

Protesaksies op die N2, naby Ermelo
Die vragmotor wat in die slag gebly het tydens protesaksie op Woensdag, 10 Oktober (foto krediet Louis Geldenhuys)

Volgens ’n woordvoerder by die Ermelo Insig, is daar op Donderdag, 11 Oktober, bevind dat ’n tydelike klaskamer, op die Nyibe-kampus ook gedurende die betrokke nag afgebrand is. Daar kon egter nie bevestig word of hierdie twee insidente verband hou met mekaar nie. Die protesgangers het na afloop van die naweek gedreig om voort te gaan.

’n Woordvoerder van die Polisie in Ermelo, Kaptein Carla Prinsloo, het bevestig dat ’n saak van publieke geweld en kwaadwillige beskadiging van eiendom ondersoek word. Op Donderdag, 11 Oktober, is daar reeds drie verdagtes in hegtenis geneem en hulle het op Vrydag, 12 Oktober in Ermelo voor die hof verskyn vir die bogenoemde aanklagte.

Die Ermelo Polisie is op gereedheidsgrondslag en die situasie word voortdurend gemonitor. Mense wat egter in die Ermelorigting reis, word aangeraai om steeds gebruik te maak van ’n alternatiewe roete (Amsterdam).