Die Rustplaas Dog Shelter sê baie dankie!
Kyk nou net so ’n oulike idee vir jou diere-kind

Miané de Bruin het behoorlik die honde-kinders by die Rustplaas Dog Shelter se harte baie bly gemaak toe sy besluit het om hulle onder haar vlerk te neem ten bate van ’n liefdadigheidsprojek waaraan sy tans deelneem.

Op Saterdag, 1 September, het sy by hulle gaan besoek aflê en mnr. Louis Fourie, eienaar van die Rustplaas Dog Shelter, was aangenaam verras toe sy aan hulle 430 kg se sakke hondekos sowel as blikkieskos skenk. Dit was nie al nie – Miané het nóg verder gedink en ook 13 oopgesnyde motorbande saamgebring sodat die honde “beddens” het om in te slaap.

Die Rustplaas Dog Shelter sê baie dankie!
Hierdie ruim donasie van hondekos word opreg waardeer

Die “bedjies” is verskillende groottes en is goed genoeg aangepas sodat ’n mens selfs ’n kussing binne-in sal kan plaas. Boonop is die “beddens” pragtig versier en handgeverf! Sy het ook vir die vierpotige-vriende 14 groot kussings saamgebring.

Duisende dankies Miané! Mnr. Fourie sê dat hy nou in staat is om ontslae te raak van al die ou gehawende komberse en kan plek maak vir die pragtige nuwe “beddens”. Die komberse was baie onnet en versamel ook baie stof – dit was ook die ideale broeiplek vir vlooie.

Gelukkig kan die honde se “beddens” nou mooi skoon gehou word aangesien die kussings met ’n seilmateriaal oorgetrek is. Woef, woef, woef! Dis nou ’n hartlike dankie in honde-taal van elke liewe honde-inwoner en hul eienaar by die Rustplaas Dog Shelter!