Rinkel-Krinkel Funnies 2018
Die Samsara se danspassies was iets om te aanskou

“Ek’s ’n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis en daar’s niks waarvoor ek skrik nie!”

Op die maat van dié liedjie, het Rinkel-Krinkel Kleuterskool se babas hierdie jaar se konsert geopen en hulle was opgetof in die skatlikste muis-kostuums.

Op Donderdag, 23 Augustus, was dit tyd vir Rinkel-Krinkel Kleuterskool se jaarlikse konsert en hiérdie jaar was besonder spesiaal! kykNET se Kleuterzone het kom besoek aflê in Piet Retief en Rinkel-Krinkel Funnies sal eersdaags op televisie uitgesaai word!

Dit was ’n besonderse ervaring vir elke kleuter en hul ouers en juis daarom het die kleinspan behoorlik lyf geskud en seker gemaak hul lewer hul beste “performance” nog! Die konsert het afgeskop met ’n opvoering van Dapper Muis en Ek hou van kaas bra deur die babas (3 maande tot 2 jaar).

Die 2- en 3-jariges het die gehoor vermaak op die maat van Banana Mango en Minions se temalied terwyl die 3- en 4-jariges die verhoog betree het in hoender-uitrustings. Hulle het die Chicken Song en Mperi Hoender perfek opgevoer! Die graad RR’e het ook nie lyf weggesteek nie en het ’n oulike Macarena en die Macarena Mambo gedoen. Die gehoor was gaande hieroor!

Daarna was dit die graad R-leerlinge se beurt en hulle was gereed met ritmiese danspassies op die maat van die Sjongolôlo Shuffle en Juicy Wiggle. Terwyl kykNET se kameraspan die vertoning verfilm het, het die Rinkel- Krinkel kleuters en personeel die konsert afgesluit met die Samsara en die Tennis Tune.

Dit was ’n kleurvolle, opwindende en pragtige konsert. Welgedaan aan elkeen wat betrokke was by die beplanning en uitvoering van hierdie meesterstuk. Ons kan nie wag om dit op televisie te sien nie!