Laerskool Wittenberg nuus
’n Golf van pragtige kleure het die lug gevul tydens ’n kleurfees by Laerskool Wittenberg

Na afloop van ’n koue winter, het Laerskool Wittenberg hul vere reggeskud en gereed gemaak vir heerlike sonskynweer met twee funksies wat die afgelope tyd plaasgevind het.

Op Donderdag, 30 Augustus, het leerders van Laerskool Wittenberg in opwagting gereedgemaak vir ’n dag vol pret en plesier toe hulle deelgeneem het aan ’n kleurfees (colour run).

Die kinders kon na hartelus mekaar met poeierverf gooi en die vrolike lentekleure het die lug gevul en ook die leerlinge se wit uitrustings behoorlik opgetower. Na die fees het die leerlinge die graad 7’s se kermis ondersteun waar verskeie aktiwiteite aangebied is as deel van hul kwartaal-projek vir Ekonomiese – en Bestuurswetenskap.

Dit was nou vet pret! Op Saterdag, 8 September, was dit tyd vir die Duitse Kultuuraand wat jaarliks gereël word om die Duitse taal sowel as kultuur te bevorder. Hierdie jaar was dit Laerskool Wittenberg se beurt om die byeenkoms aan te bied en dit was ’n spoggeleentheid.

Die drie Duitse skole in ons omgewing genaamd Lüneburg Schule, Michaelis in Vryheid en Laerskool Wittenberg het die besoekers vermaak met uitstekende optredes. Van koorsang tot instrumentele opvoerings en gedigte wat voorgelees is – elke item was iets besonders!

Dr. Udo Küsel, skrywer van die boek Africa calling – a cultural history of the Hermannsburg mission and its descendants in South Africa, het die geleentheid ook bygewoon en sy boek is terselfdertyd vrygestel. Mans van verskillende gemeentes het as ’n gesamentlike mannekoor opgetree en die verrigtinge is so afgesluit.

Gedurende die ete, het die blaasorkes die gaste met hul trompette en musiek vermaak. Laerskool Wittenberg wil graag elkeen hartlik bedank wat die Duitse Kultuuraand bygewoon het asook elkeen wat bygedra het tot die suksesvolle geleentheid.