Sewende MTB toer was ’n lekker koue een!
Sewende MTB toer was ’n lekker koue een!

Die Piet Retief Wheelers het vanaf 9 – 12 Augustus 2018, die sewende, agtereenvolgende MTB toer suksesvol voltooi en hierdie jaar het hulle al die pad weer na St. Lucia toe getrap!

Op ’n ysige Donderdagoggend, 9 Augustus, teen 06:00, het die fietsryers gereed gemaak vir die eerste dag van die MTB toer. Die wegspringpunt was op die Mahambapad, vanwaar die deelnemers via Swaziland, Pongola toe gery het.

Na ongeveer 133 km, het hulle by die Pongola Gastehuis geëindig. Dit was nat, baie modderig en ysig koud, maar niemand het moed verloor nie en na 45 km se fietsry, het almal eers ’n lafenis geniet.

Hierdie roete was taai! Deur modderplasse en reënbuie wat gedurig geval het, het die ryers oor berge en dale hul bestemming bereik en ’n smaaklike aandete geniet. Vrydag, 10 Augustus se rit was ongeveer 100 km vanaf Pongola tot by die Baobab Inn.

Nadat die ryers kennis gemaak het met ’n stewige bergklim en ongeveer 40 km se strawwe fietsry, het hul bymekaargekom en ’n heerlike ontbyt voorberei. Daarna het hulle op die N2 geklim en vir 9 km gery tot by Mkuze (Jozini).

Die span het by die Baobab Inn oornag waar hul hamburgers en skyfies vir middagete en hoender en slaaie vir aandete genuttig het. Hou bene, hou! Teen Saterdag, 11 Augustus, het die deelnemers met vele pyne en skete die derde dag se roete aangepak en teen 06:30 was elkeen slaggereed vir die 100 km vanaf Baobab Inn tot by St. Lucia.

’n Welverdiende ontbyt is by die Fig Tree Restaurant in Hluhluwe geniet en van daar het hulle op die Bushlandspad gery vir 25 km tot by Charters Creek. Die weer het effens opgeklaar en die ryers kon teen daardie tyd die natuurskoon rondom hulle ook bietjie geniet.

Nadat hulle by Fawnleas, in ’n plantasie, afgedraai het, het hulle ’n treinspoor oor-gesteek en vir nog 15 km gery tot by die Kaasplaas, naby St. Lucia. ’n Lip-lekker middagete van rolletjies, koue vleise en slaai is vir hul voorgesit by The Pool Lapa, naby die St. Lucia brug en daar is gesellig verder saam gekuier.

Die moeë fietsryers het ook die geleentheid gehad om St. Lucia te verken en selfs ’n bietjie verdiende slaap in te haal voor hul almal by die St. Lucia Ski Boat Club bymekaargekom het vir aandete.

Die MTB fietsryers het die laaste aand by The Bridge Holiday Resort oornag voordat hul op Sondag, 12 Augustus, hul fietse op sleepwaens gelaai het en gereed gemaak het om per voertuig huis toe te ry.

Voor hul vertrek het, is daar ’n laaste keer ontbyt saam geniet. Die 2018 MTB toer na St. Lucia het bestaan uit Alvin Bronkhorst jr., Johan, René en Gerhard Greef, Abraham Louw, Helene en Carike Paul, Milton en Jeanne Slabber, Darlinke en Leon Putter, Dayle en Jill Shand, Prineal Singh, Andries van Wyk, Henda van der Linde, Danie Strydom en Freidrich Syringhorn.

Die fietsryers het ook ’n goeie ondersteuningsnetwerk gehad en Manie, Tersia en Anrie van Wyk, Jeanne Slabber en Leon Putter het almal moed ingepraat en positief gehou. Butch en Polly Bronkhorst, en Ansie du Preez, het die toer met hul voertuig meegemaak en was verantwoordelik vir die heerlike etes op die pad.

Duisende dankies aan hierdie jaar se borge; Raveens Auto Spares, Piet Retief Spar, Tuscarora Spur, Stucky Motors, Dentist @ Piet Retief, Mpact en TWK Agri. Sonder jul bydraes, sou die toer nie moontlik gewees het nie. Maak gerus gereed vir volgende jaar se MTB toer weer na St. Lucia – dis beslis ’n belewenis en ’n ervaring wat nie gemis moet word nie!