O/16’s deur na Virseker Beker finaal
Mnr. B. Bouwer saam met die O/16’s wat eersdaags aan die Virseker Beker finaal gaan deelneem

Baie geluk aan Hoërskool Piet Retief se O/16 rugbyspan wat eerskomende naweek aan die Virseker Beker finaal gaan deelneem, by die Universiteit van Pretoria, se LC de Villiers Stadion.

Op Saterdag, 11 Augustus, het die O/16’s teen Hoërskool Alberton te staan gekom en hul het blitsvinnig die voortou geneem. Teen rustyd, was die telling reeds in HPR se guns met 10-7 en toe die eindfluitjie blaas, wen HPR met ‘n skrapse voorsprong van 33-29.

Baie geluk aan die hele span, maar in besonder aan Christopher Ries, Christiaan Britz en Siyanda Blose wat verantwoordelik was vir die punte.

Siyanda het drie pragdrieë gedruk en is ook aangewys as speler van die wedstryd – welgedaan! Hoërskool Piet Retief se O/14’s het ook deelgeneem aan die halfeindronde van die Virseker Beker en het Hoërskool Klerksdorp die stryd aangesê.

Klerksdorp se spelers lewer egter beter spel en wen die wedstryd met ’n telling van 59-17. Die O/14’s van HPR het steeds goeie rugby gespeel en dit is ’n groot prestasie om tot in die halfeindronde van hierdie toernooi te vorder.

Hoërskool Piet Retief se O/16’s sal op Saterdag, 18 Augustus, teen die ervare span van Hoërskool Ellisras te staan kom in die finaal, wat teen 10:30 op die A-veld sal afskop. Die hele Piet Retief hou vir jul duim vas en staan bankvas agter julle! Bring die Virseker Beker huis toe!