9de Hoeka Toeka Karskou
9de Hoeka Toeka Karskou

’n Mens is dikwels geneig om te dink dat ’n voorwerp wat gekenmerk word as klassiek, oud is, maar as jy die 2018 Hoeka Toeka Karskou in Piet Retief besoek het, sou jy gesien het dat hierdie “ou karre” beslis elkeen ’n spoggerige baadjie aangehad het en inderdaad splinternuut vertoon.

Hierdie jaar, was die negende, suksesvolle Hoeka Toeka Karskou wat met trots deur die A.P. Kerk in Piet Retief jaarliks aangebied word en op Saterdag, 28 Julie, het opgewonde motorfanatikusse tougestaan om die pragtige motors in hul volle glorie te bekyk.

2018 se skou het ook verskeie kunstenaars verwelkom en die gaste is heeldag deur Country musieklegendes soos Dennis East, Bobbie Louw en Dalene vermaak. Arri Opperman, bekende liedjieskrywer en sanger, het ook gesig gewys en plaaslike talent soos Buks Brits het gesorg vir ’n gemoedelike atmosfeer.

Die seremoniemeester vir die dag, Francois van Rensburg, ’n welbekende in die vermaaklikheidsbedryf, het die feesgangers vermaak met sy kwinkslae. Uitstallers het vanaf Pongola, Dundee, Vryheid, Swaziland, Carolina, Hendrina, Ermelo, Middelburg, Witbank en Pretoria gekom en Piet Retief se motorversamelaars het ook hul pragtige voertuie geskou.

Ondersteuners van heinde en vêr sowel as lede van die Vryheid Vintage Car Club en die Hoëveld Ou Motorklub het die dag bygewoon. Die dag het natuurlik heerlike vermaak vir die jongspan ook ingesluit en daar was ’n trein wat die kinders heeldag rondgery het.

Pragtige stalletjies het gesorg dat die dames na hartelus kon snuffel en die kosstalletjies was op gereedheidsgrondslag vir al die honger mae. Die oudste voertuie op vanjaar se skou was ’n 1911 en 1915 Ford T Model, wat dateer uit die brass era.

Besoekers kon hulself ook verkyk aan verskeie Amerikaanse “Muscle Cars”, soos die 1971 Pontiac Fire Bird, 1973 Pontiac LeMans en ’n redelik nuwe Ford Mustang. Verskeie pryse is deur die loop van die dag aan besoekers sowel as uitstallers oorhandig.

Harry Heyns, Neels Nortje, Leon van den Berg, Japie van Vuuren, Albie Eiker, Des Lemmon-Ward, Paul Mouton, Frank Trollip en Kobus Botha het ook pryse gewen.

Saterdag se heerlike sonskynweer was ideaal vir dié dag en die organiseerders het goeie, positiewe terugvoer ontvang. Ons hoop om volgende jaar nog meer uitstallers te sien!