Piet Retief Rugbyklub
PRRK spanne het op Saterdag, 30 Junie, aanskoulike rugby gespeel

Piet Retief Rugbyklub se Eerste – en Tweede span het weer op Saterdag, 30 Junie, skoonskip gemaak toe hulle in die halfeindronde van die Noord-Natal Liga, teen Volksrust op tuisbodem te staan gekom het.

Tweede span: Die wedstryd het om 14:00 afgeskop en Piet Retief het sommer van die staanspoor af die wedstryd oorheers. Hulle stap weg as oorwinnaars met ’n eindtelling van 60- 3! Knap gedaan!

Baie geluk aan die volgende spelers wat puik drieë gedruk en pragtige skopwerk gelewer het: Lammie van der Linde (1), James Fourie (1), Louis Fourie (1), Leroy Breytenbach (2), Bongemesi Dlamini (1), Jabu Dlamini (1), Sakkie Fourie (1), Adriaan Thomas (1) en Jacques Cornelius (1). Leroy Breytenbach skop ook 5 verdoelings gemaklik oor.

Paul Ziervogel is aangewys as voorspeler van die wedstryd en Leroy Breytenbach is gekies as agterspeler – baie geluk kêrels! Eerste span: Die manne het omstreeks 15:30 afgeskop en was dadelik gereed om punte aan te teken en te verdedig. PRRK se Eerstes wen die wedstryd met ’n eindtelling van 40- 24.

Baie geluk aan Sam Ndlovu (1), Ray van der Lith (2) en Steve Scheepers (1) met pragdrieë. Waldo Bothma verdoel al vier hierdie drieë en skop ook vier strafskoppe tussen die pale deur. Jurie Heystek is aangewys as voorspeler van die wedstryd en Waldo Bothma word benoem as agterspeler – mooi so!

Rugbyondersteuners kan uitsien na die Noord-Natal Liga Finaal op tuisbodem hierdie komende Saterdag, 7 Julie 2018. Beide PRRK se spanne sal aan die finaal deelneem.

Die Eerstes kom teen Ladysmith se Bulldogs te staan terwyl die Tweedes vir Sentraal, van Dundee, die stryd gaan aansê. Wedstryde skop omstreeks 14:00 af. Moet dit beslis nie misloop nie!

Daar is ook genoem dat die Derde Afdeling vir kleiner spanne in die Noord-Natal Liga Finaal, ook op Piet Retief se veld sal plaasvind Saterdag. Kom ondersteun gerus hierdie rugbyspanne ook!