Maans van Zyl
So sal ons vir Maans onthou

Dit is met groot leedwese dat die familie en vriende, sowel as die hele gemeenskap van Piet Retief, op Dinsdag, 10 Julie 2018, moes afskeid neem van ’n vriendelike gesig in die dorp, Maans van Zyl.

Maans van Zyl en sy vrou, Ria (Maria Elizabeth van Zyl), is vir die afgelope 35 jaar al inwoners van Piet Retief en hy was ’n aantal jare werksaam by PG Bison sowel as Normandien. Hy is op 16 Oktober 1954 in Odendaalsrus gebore en het vir Ria in Klerksdorp ontmoet waar beide skoolgegaan het.

Die egpaar was hierdie jaar 44 jaar getroud. Maans het op Dinsdag ‘n jarelange stryd teen Kolonkanker verloor toe hy omstreeks 07:30 in die Mediese Instituut van Richardsbaai oorlede is. Mnr. van Zyl laat sy eggenote, Ria, hul vier kinders (een seun en drie dogters) sowel as vyf kleinkinders (vier kleinseuns en ’n kleindogter) na.

Maans sal beslis onthou word vir sy unieke humorsin en dat hy nooit iets gehad het om oor te kla nie. Familielede het Maans van Zyl soos volg op sosiale media beskryf: “Wat onthou ek van hom? Heel eerste, sy hard praat, sjoe, hy het behoorlik hard en baie gepraat.”

“Ek onthou sy soms te vinnig gepratery en die sukkel om dan mooi uit te maak wat hy gesê het.” “Hoe sal ek Maans van Zyl se oopmond lag vergeet en dan hoor ek dit ook!” “En dan, dan hoor ek sê: Wat praat jy?

Hy was lief vir daardie woorde.” Die Excelsior Nuus wil graag ons innige simpatie en meegevoel betuig met Maans se familie, kennisse en vriende. Rus in Vrede, Maans.