AfriForum Buurtwag
Vrydagaand se patroleringsoperasie is goed ondersteun en positiewe resultate is bereik

Die AfriForum Buurtwag het op Vrydag, 22 Junie, weereens ’n suksesvolle patrolleringsoperasie gehad waartydens vrywilligers die hele Piet Retief van hoek tot kant gefynkam het.

Die doelwit van hierdie operasies is om sigbaarheid te beklemtoon. Pendelaars wat snags verdag voorkom in die dorp se woongebiede, is aan die plaaslike SAPD gerapporteer en die dorp se vleie en parke is ook te voet besoek.

Voertuie wat in woongebiede parkeer en agterdogtig lyk, of persone wat onder die invloed bestuur of alkohol in die publiek gebruik, is ook aan die polisie deurgegee. Die patrollielede het ook die registrasienommers van vragmotors wat onwettig in die dorpsgebied parkeer, aan die Verkeersdepartement gerapporteer. Tydens Vrydagaand se operasie is verskeie voorvalle van aanranding by plaaslike kroeë en verdagte persone en voertuie gerapporteer.

Die ou SASSA gebou is omstreeks 21:45 besoek en die mense wat skuiling daar gesoek het, is deur die SAPD verwyder. Hierdie gebou is uiters onhigiënies en gevaarlik aangesien dit reeds deur die Departement van Openbare Werke, onveilig verklaar is. Die Verkeersdepartement het twee boetes van R1 000- 00 elk uitgereik aan swaarmotorvoertuig bestuurders wat in Kerkstraat geparkeer het.

Almal het omstreeks 21:00 ’n ruskans geneem en by TyreMart Piet Retief bymekaargekom waar elkeen ’n smaaklik worsbroodjie en warm koffie geniet het. Baie dankie aan Willem Grobler vir die gebruik van sy perseel asook aan Lourens Oosthuizen wat gesorg het vir die braaiwerk en tannie Anna Potgieter vir die hulp met die koffietafel.

Daarna het die lede verder gaan patrolleer en die operasie het om 00:00 geëindig. AfriForum Buurtwag wil graag alle donateurs bedank vir hul skenkings, dit word opreg waardeer. Die skenkers se hande is altyd oop om te help waar hul kan en die SAPD, asook die Verkeersdepartement, het met elke aksie ook ’n postiewe gesindheid teenoor die inisiatief en is baie behulpsaam.

Hartlike dankie ook aan elke deelnemer wat bydra tot die sukses van die patrolleringsoperasies. Julle maak werklik ’n groot verskil! In totaal het 51 vrywilligers deelgeneem, waarvan daar 38 AfriForum lede, 1 Verkeersbeampte en 12 polisiebeamptes betrokke was.

’n Totaal van 31 voertuie is gebruik in die inisiatief en altesaam 1 200 kilometer is afgelê in ’n kwessie van 6 ure (van 18:00 – 00:00).