Die dames is bedrywig by Huis Immergroen
Mev. Marie Meyer se eerste probeerslag met die hekelnaald het ’n pragtige eindproduk gelewer

Op die ouderdom van 89, spog mev. Marie Meyer met ’n pragtige stukkie hekelwerk en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Tannie Marie sê dat sy truie toe-oë kan brei – en dít sonder ’n patroon, maar sy het nog nie eintlik probeer hekel nie en die kniekombersie uit skakerings van groen was haar eerste suksesvolle poging.

Alhoewel sy dit beaam dat sy verskeie kere moes lostrek, het hiérdie projek ’n pragtige eindresultaat gelewer en begin haar hande reeds jeuk om weer aan die hekel te spring. Mev. Helena Anna (Ena) Oosthuizen is ’n 98-jarige inwoner by Huis Immergroen en sy het ’n baie interessante lewensverhaal.

Sy is ’n afstammeling van die befaamde Du Toit en Malherbe familie, van die Paarl, Montagu en Robertson distrikte. Haar broer is Arnout Malherbe, ’n bekende musikant wat naby De Deur gewoon het. Tannie Ena het by die Potchefstroom Universiteit studeer waar sy ook haar eggenoot, Nicolaas Tobias Oosthuizen, ontmoet het.

In 1944 is hul in Johannesburg getroud en het op Wakkerstroom hul eerste onderwysposte aanvaar. Vir meer as 15 jaar, gee Ena skool op Wakkerstroom en drie van haar eie kinders was in haar klas. Sy het ook verskeie kore afgerig en die orrel gespeel.

Op die ouderdom van 80, het tannie Ena op haar kleindogter Ernette se troue gesing! In 1966, het Ena aan die eerste Republiekfees by die Voortrekkermonument deelgeneem en van haar kore het ook in die feeskonserte gesing.

Tannie Ena Oosthuizen is ’n merkwaardige vrou
Tannie Ena Oosthuizen is ’n merkwaardige vrou

Hiérdie vrou het verskeie medaljes van die FAK en ATKV ontvang vir al haar optredes. Na haar man se afsterwe in 1978, verhuis sy na Pretoria en gee skool by Hoërskool CR Swart waar sy steeds voortgegaan het met koorafrigting. Haar koor het verskeie Pretoria ATKV en Noord Transvaal kompetisies gewen en het ook aan die Nasionale Applous Koorfees in 1979 deelgeneem.

Tannie Ena het in 1980 in Israel gaan besoek aflê en haar in die Jordaanrivier laat doop. Vir ongeveer 34 jaar, was sy in Pretoria woonagtig en oorleef ernstige kanker. Op die ouderdom van 89, het tannie Ena steeds haar eie motor bestuur en was vreeslik lief vir koekbak. Sy het graag haar vriende en familie onthaal.

In 2012 word Ena siek en verhuis na Piet Retief waar sy steeds by Huis Immergroen woonagtig is. Hierdie is ’n merkwaardige vrou met ’n propvol lewensverhaal. Sy het 5 kinders, 5 skoonkinders, 8 kleinkinders en ’n allemintige 14 agterkleinkinders. Tot vandag toe nog leef tannie Ena baie naby aan haar God.


Riana Mouton kuier by Huis Immergroen

Onder die snoesige kniekombersies en warm pantoffels, kon ’n mens sien hoe die voete saam beweeg op die maat van Riana Mouton se pragtige stem.

Riana Mouton kuier by Huis Immergroen
Ten bate van Avbob se 100ste verjaarsdagviering, het Riana Mouton die bejaardes by Huis Immergroen vermaak

Op Donderdag, 18 Oktober, het Avbob in Piet Retief ’n uitreik na Huis Immergroen gereël en Riana Mouton het die bejaardes vermaak met pragtige sang. Die samesyn is deel van Avbob se uitreik na die gemeenskap en ook om mense bewus te maak daarvan dat Avbob ’n tak in Piet Retief ook het.

Die luisteraars is ingelig dat Avbob vanjaar hul 100ste bestaansjaar vier en terwyl Riana verskeie Afrikaans en Engelse liedjies gesing het, is die inwoners ook bederf met heerlike versnaperinge met tee of koffie. Daar is saamgeluister na treffers van Jim Reeves en selfs Bles Bridges se weergawe van Maggie.

Dit was ’n heerlike oggend! Huis Immergroen bestuur en personeel wil graag vir Avbob en Riana Mouton hartlik bedank vir hul mooi gebaar en die smaaklike eetgoed. Daar word alreeds uitgesien na nóg so ‘n besoek van julle af.


Moedersdag vanjaar eerste by Huis Immergroen

Op Vrydag, 12 Mei, het Helpende Hand die Gr. Rklas van Spoortjies uitgenooi om al die mammas in Huis Immergroen te verras vir Moedersdag.

Die kleuters het I Love You en Jan Pierewiet gesing en al die bewegings uitgevoer om soentjies vir die gehoor te stuur en al te statig gebuig. Elke gas is ook bederf met ‘n spesiale drukkie van die kleuters af. Verder is die mammas bederf met ‘n pienk versierde kolwyntjie en ‘n pakkie sneesdoekies wat met lintjies versier was.

Moedersdag vanjaar eerste by Huis Immergroen
Moedersdag vanjaar eerste by Huis Immergroen

Die kinders het ook die kaartjies versier wat almal ontvang het. Dit was in Duits, Afrikaans en Engels met die boodskap “Mamma se insette in my lewe is so uniek en fyn soos ‘n kind se vingerafdrukke. Gelukkige Moedersdag.” Aan die einde van die vertoning het die kinders elk ‘n kleurvolle versierde sjokoladekolwyntjie ontvang van Annatjie Pretoruis van Die Wingerdstok af.

Een inwoner het by Huis Immergroen opgedaag saam met haar kinders net toe die kleuters vertrek het. Vinnig het die kleuters vir haar ‘n persoonlike vertoning van I Love You gegee en haar ook sommer baie drukkies gegee. Baie dankie aan elkeen wat hierdie spesiale dag moontlik gemaak het.

Hopelik was Moedersdag vir elke mamma in die dorp ‘n baie spesiale dag en het hul kinders hul heerlik bederf. Enige iemand wat in kontak wil tree met Helpende Hand kan die voorsitter, Cornette du Plessis, kontak by 072 858 0828.


Voorspoed vanuit Huis Immergroen

Met die Feestyd wat nou weer iets van die verlede is, wil die bestuur, inwoners en personeellede van Huis Immergroen graag vir almal ‘n voorspoedige nuwe jaar toewens!

Voorspoed vanuit Huis Immergroen
Voorspoed vanuit Huis Immergroen

Die tyd stap vinnig aan en nog voor Kersfees behoorlik sy kop kon uitsteek, was dit alreeds weer verby. Op Kersdag het die inwoners en personeel ‘n heerlike ete saam met hulle geliefdes geniet. Baie dankie vir elke persoon wat die dag besonders vir almal gemaak het. Tydens die afgelope week, het Huis Immergroen ‘n nuwe inwoner verwelkom.

Mev. Edna Seegers is afkomstig van Paulpietersburg en is reeds tuis tussen die ander inwoners. Baie welkom en mag u verblyf vreugdevol wees! Nóg ‘n hoogtepunt waarmee die inwoners hierdie jaar afskop is ‘n splinternuwe stoep by die sonkamer in saal C. Nou kan daar behoorlik in die sonnetjie gebak word tydens teetyd.

Baie dankie aan die bestuurslede van Huis Immergroen wat die wonderlike inisiatief geneem het om die bejaardes van ‘n gesellige kuierhoekie te voorsien. Weereens wil die bestuur van Huis Immergroen die gemeenskap in kennis stel dat die tehuis tans beskikbare kamers en beddens het.

Boonop bied die personeel ‘n uiters professionele diens – 24 uur per dag! Graag word daar dan ook uitgewys dat families wat bejaardes het met Alzheimersiekte en belangstel daarin om vir hulle ‘n veilige tuiste te bespreek, welkom is om vir Ellen Koch by 017 826 4918 te skakel. Die personeellede by Huis Immergroen kan spesiale sorg bied vir mense wat aan die betrokke siekte ly.

Die personeel se ervaring in die versorging van pasiënte met hierdie siekte is puik! Wees vandag gerus ‘n seën vir iemand. Wees die persoon wat verstaan, die oor wat luister. Wees die skouer wat vertroos en die mond wat bemoedig. Wees ook die arms wat omgee en wees bowenal die liefde wat God in jou saai. Immergroen liefdegroete.


 

Bedrywighede by Huis Immergroen

Daar was omtrent ‘n rits bedrywighede by Huis Immergroen die afgelope tyd! Eerstens, word mev. M. Becker verwelkom as ’n nuwe permanente inwoner.

Daar word gehoop dat u verblyf aangenaam sal wees en dat u sommer spoedig sal tuis voel. Die tehuis spog tans met ’n splinternuwe stoep wat grens aan saal C. Hiér kan daar na hartelus gekuier word terwyl die warm somerweer geniet word.

Bedrywighede by Huis Immergroen
Bedrywighede by
Huis Immergroen

Baie dankie aan die bestuurslede van Huis Immergroen wat die inisiatief geneem het om die stoep aan te pas sodat die bejaardes die buitelug kan geniet sonder om in die direkte son te sit.

Op Dinsdag, die 7de Februarie het belangstellende inwoners ‘n entjie gaan stap, met behulp van die bekwame personeel natuurlik. Gesondheid en goeie oefening is uiters belangrik en hoe dan anders as om die lieflike natuurskoon te geniet en boonop oefening ook te kry!

Daar word eersdaags ‘n Alzheimersiektewerkswinkel by Huis Immergroen gehou. Die datum is nog nie bevestig nie, maar vir meer inligting hieroor, skakel gerus vir Ellen Koch by 017 826 4918.

‘n Drukkie is die perfekte geskenk; dit is presies die regte grootte vir elkeen en niemand gee om as dit teruggegee word nie! Kom gee gerus vir die inwoners ’n drukkie vir Valentynsdag – jy mag dalk net aangenaam verras word wanneer jy een, met liefde, terugontvang. Immergroen liefdegroete.


Huis Immergroennuus

Die afgelope week het die inwoners van Huis Immergroen die geleentheid gehad om ’n nuwe inwoner te verwelkom, maar ook om afskeid te neem van ’n bekende gesig in die gemeenskap van Piet Retief.

A warm hearted welcome to Mrs C. Keightley who is now a permanent resident at Huis Immergroen. May your stay be full of joyous moments and may you feel right at home! Huis Immergroen het op Woensdag, die 22ste Maart, besoek ontvang vanaf Yolande Boshoff. Yolande het kom afskeid neem van al die lief en dierbare mense van Huis Immergroen wat haar na aan die hart lê.

Sy en haar gesin gaan eersdaags verhuis en sy het die inwoners bederf met heerlike kolwyntjies om totsiens te sê. Die gemeenskap van Piet Retief wens vir Yolande en haar gesin alles van die beste toe! Op Maandag, die 27ste Maart, is die bejaardes wéér bederf deur Helpende Hand se dames wat vir hulle die oulikste waslappies en Paaseiers gebring het.

Huis Immergroennuus
Welcome to Mrs C. Keightley

Alhoewel daar soms “skelm” aan die lekkernye gesmul word (vernaam deur diegene wat diabeties is) word kuiergeleenthede soos hierdie altyd verwelkom. Baie dankie vir almal se belangstelling en spontane besoeke. ’n Kort grappie om hierdie week se verrigtinge op ’n glimlaggende noot af te sluit.

Oom Piet en tannie Sannie is woonagtig in ’n oue-tehuis, maar geniet steeds die lewe en hou daarvan om so nou en dan speletjies te speel. Een oggend ry tannie Sannie met ’n stink spoed deur die gange in haar rolstoel. Oom Piet kom by sy kamerdeur uitgeloer en stop vir tannie Sannie: “Waar is jou lisensie?” vra hy haar, terwyl sy vinnig ’n klein grimeerspieëltjie uit haar sak haal en vir hom gee. Oom Piet giggel en gaan terug in sy kamer in.

‘n Kort rukkie later, kom tannie Sannie weer verbygejaag en oom Piet stop haar weer. “Waar is jou dokumentasie om só te mag jaag?” vra hy haar en vinnig gee sy vir hom ’n Pick n Pay slippie. Wéér, lag oom Piet te lekker en draai om in sy spore. Met die derde keer wat tannie Sannie verbyjaag, hardloop oom Piet reg voor haar rolstoel in – dít met ’n glas water en ’n strooitjie byderhand.

“Ag nee Piet, ek wil asseblief nie wéér in die pypie blaas nie”, sê tannie Sannie – met ’n reu-seglimlag op haar gesig! Om oud te word is onvermydelik, maar ’n mens kan sekerlik kies om jonk van gees te bly al is jy reeds 80!


Huis Immergroen Verwelkomings

Gedurende die afgelope twee weke het Huis Immergroen nuwe inwoners bygekry en word hulle hiermee graag welkom geheet.

Die personeellede en inwoners van Huis Immergroen wil graag vir mnr. Dawid Zeelie en mev. Tokkie de Klerk hartlik welkom sê. Alhoewel oom Dawid slegs ‘n tydelike inwoner is, is hy reeds baie ingenome met sy verblyf. Tannie Tokkie kuier ‘n hond uit ‘n bos uit saam met die ander inwoners en geniet die vriendelike en opgewekte atmosfeer baie.

Mag julle albei se verblyf by die tehuis vreugdevol wees! Op Dinsdag, die 1ste November, is ‘n handjievol inwo-ners deur Wittenberg Schüle se personeel gaan haal om hulle konsert by te woon. Die bejaardes was baie opgewonde en het al laggende vertrek. Die konsert het gehandel oor Rooikappie en die Wolf. Op Woensdag, die 2de November, het nóg ‘n groepie skoolkinders besoek gaan aflê by Huis Immergroen.

Kinders van Laerskool Piet Retief, onder leiding van mnr. Japie van Vuuren, het heerlik saam met die bejaardes gekuier en gesels. Weereens, ‘n suksesvolle kuiertjie wat deur almal geniet is. Soos almal reeds bewus is, lê die Desembervakansie om die draai maar daar sal steeds vetkoek en maalvleis of kerrie en rys beskikbaar wees tot en met Woensdag, die 9de November.

Om enige terleurstelling te verhoed, skakel gerus vir Rosa by 017 826 4918 en plaas u bestellings vroegtydig. Die tyd het verbygevlieg en die einde van die jaar is in sig, met soveel seëninge – hoe dan anders as om dankbaar te wees? Tyd is soos ‘n rivier… Jy kan nie dieselfde water twee maal aanraak nie, want die stroom wat verby is, kom nooit weer by jou verby nie. Mag jy vandag oorspoel word met die mooiste tye, die mooiste mense en die mooiste dinge. Immergroen liefdegroete.