Top Shot en Bestuurslede
Top Shot en Bestuurslede

Soos gewoonlik was die Mama Mia span se diens onberispelik, en ons pas afgelope Algemene Jaarvergadering het soos klokwerk afgeloop.

Die nodige besluite is geneem, formaliteite is afgehandel en die nuwe bestuur is gekies. Wat beteken dat al die ou bestuurslede weer net so in hulle poste herkies is. Die bestuurslede is: Voorsitter – Denzil Venske, Sekretaris – Dawie de Bruin, Punte en Liga – Kyle van Deventer, Media – die uwe, met Nic Stephansen as die addisionele lid.

Ons jaarlikse Top Shot toekennings is ook bekend gemaak, met Heinz Dirsuwei in die derde plek, Johnny Naudé in die tweede plek en Paul Mouton 2017 se Top Shot. Die toekennings is slegs van toepassing op ons klubbyeenkomste, wat beteken dat gereelde bywoning van klubbyeenkomste jou kanse verbeter om ‘n goeie Top Shot plek te behaal. Ek wil ook ‘n paar manne uitsonder wat noemenswaardige prestasies behaal het.

Johnny Naudé, Dawie de Bruin en J.C. Potgieter het met al drie die nasionale kampioenskapbyeenkomste die Mpumalanga standaardspan verteenwoordig. Hulle het nou ‘n ystergreep op drie van die vier plek- ke in die Mpumalangaspan!

J.C. was ook genooi om saam met die Springbokspan aan die wêreldkampioenskappe in Frankryk te gaan deelneem, en het daar die vyfde plek in die junior afdeling losgeskiet. Baie geluk aan hierdie kampioenskuts, julle maak ons trots om saam met julle Skietpieties te wees. Daar was ook ‘n hele paar besighede wat ons ondersteun het, en ek wil die volgende borge hart- lik bedank: 4×4 Mega World, Autohouse, Earth Angel Beauty and Wellness Spa, Mama Mia, Pick n Pay en Tyremart.

Dan moet ek ook baie dankie sê aan die span by Excelsior Nuus, wat altyd gewillig is om ons nuusberigte in die koerant te plaas. Ons waardeer julle almal se bydrae en ondersteuning in ons relatief onbekende sport. Deur julle ondersteuning was 2017 ons klub se sterkste jaar nog, met die grootste aantal lede, asook die beste prestasies – provinsiaal, nasionaal en natuurlik internasionaal!

Bedrywighede wat binnekort ook gaan plaasvind is ons kluboefening wat op Saterdag, 27 Januarie sal wees by die Bertie Eggers Skietbaan, vanaf ongeveer 13:00, en dan ons eerste MPSA ligabyeenkoms op 3 Februarie te Trichardt. Kontak gerus vir voorsitter Denzil op 083 625 1345 vir meer besonderhede, of besoek gerus ons webblad by www. prskiet.co.za. Kom gee die gogga kans om te byt, dis ‘n lekker byt. Ek belowe! Wederom, Lood.