Operasie “Paddastoel” saam met die SAPD en Verkeersdepartement
Operasie “Paddastoel” saam met die SAPD en Verkeersdepartement

Operasie “Paddastoel”? – want AfriForum “pop” op in die vreemdste plekke en maak ’n daadwerklike verskil!

Op Vrydag, 1 Desember, het lede van die AfriForum in Piet Retief, tesame met beamptes van die plaaslike SAPD en Verkeersafdeling, ’n operasie uitgevoer waarin patrollies regoor Piet Retief gedoen is. Die operasie het afgeskop met ’n beplanningsvergadering, gelei deur Brigadier Gous van die plaaslike Klusterkantoor, vanwaar die betrokkenes versprei het om die fokus te plaas op sigbaarheid in die gemeenskap.

Daar is klem gelê op drank- en dwelmmisbruik en die park by Park Singel is ook besoek. Met hul aankoms by die park, was daar reeds ’n partytjie aan die gang, maar toe die gaste die polisie gewaar, het hulle vinnig spore gemaak. Vir ongeveer 10 ure (vanaf 18:00 – 03:50) het 29 Buurtwaglede met 15 voertuie, verskeie areas in Piet Retief besoek en gepatrolleer.

Daar is verskeie inspeksies by ongeveer 10 plaaslike kroeë gedoen om te verseker dat die reëls nie oortree word nie en boetes is uitgereik aan een van die besighede wat nie binne die grense van die wet besigheid bedryf nie. Teen ongeveer 22:00, is daar ongeveer 14 motoriste beboet wat die verkeersreëls oortree het.

Daar is ook verskeie verdagte voertuie en persone in residensiële gebiede gerapporteer. Die gemeenskap het werklik bymekaargekom tydens hierdie operasie en teen 22:00 is daar heerlike koffie, tee en worsbroodjies voorsien aan almal wat by die operasie betrokke was. Baie dankie aan tannie Anna Potgieter, Bianka Swart en Chanelle Brits wat hand bygesit het om kos en koffie gereed te kry vir almal.

Operasie “Paddastoel” saam met die SAPD en Verkeersdepartement
Heerlike worsbroodjies en koffie is teen 2200 bedien

Dankie, ook aan Willem Grobler en Lourens Oosthuizen met die braai van die wors. Na ’n heerlike blaaskans, het almal weer ingespring en verder gepatrolleer tot ongeveer 03:50, Saterdagoggend, 2 Desember. AfriForum se Distrikskoördineerder van Mpumalanga, Hennie Bekker, het gesê: “Die gemeenskap se betrokkenheid is indrukwekkend.

Dit is verblydend om te sien dat die gemeenskap eienaarskap vat van hul eie veiligheid in samewerking met die SAPD.” AfriForum Piet Retief wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen te bedank wat uit vrye wil deelgeneem het.

Dankie, dat daar met ’n goeie gemoed en gesindheid saam met die plaaslike SAPD-lede gewerk kan word en ’n hartlike dank ook aan die volgende plaaslike besighede vir hul ruim skenkings: Die plaaslike slaghuise vir hul skenkings van wors vir 150 mense: Berno’s Slaghuis, Blou Bul Slaghuis, LN Slaghuis, Plaas Slaghuis en Delicious Meats.

Vir ander bydraes soos souse, koffie, tee, suiker, melk, broodrolletjies en houtskool: Pick n Pay Woodhill Centre, Pick n Pay Kerkstraat, Piet Retief Superspar, Piet Retief Wimpy en Charka. Tydens hierdie suksesvolle operasie, het 57 mense deelgeneem met ’n totaal van 26 voertuie en ongeveer 1 560 km is afgelê – dit wil gedoen wees! Vir diegene wat belang stel om betrokke te raak by AfriForum Buurtwag, SMS of WhatsApp jou naam en nommer na 071 411 0784. Om betrokke te raak sál ’n verskil maak!