Gesteelde items in veld gevind
Gesteelde items in veld gevind

Op Vrydag, 1 Desember, het inwoners van Burgerstraat, op verskeie gesteelde items afgekom wat in die veld oorkant die straat, tussen ruig bosse en plante versteek is.

Volgens die inwoner, is daar toerusting van ’n plaaslike tuindienste se voertuig afgesteel terwyl die werkers besig was om in ’n tuin te werk. Terwyl die inwoners en werkers begin soek het na die gesteelde toerusting, het hulle in die veld, oorkant die betrokke woning, op die items afgekom.

Die toegegroeide gebied skep die ideale wegkruipplek vir kriminele
Die toegegroeide gebied skep die ideale wegkruipplek vir kriminele

Dit wil voorkom of die items in die beboste veld weggesteek is, sodat die kriminele dit dalk op ’n later stadium kon gaan haal. Die dame het verskeie mense in kennis gestel van wat hul ontdek het en dit blyk toe dat haar buurman die eienaar is van die klere wat gevind is.

Volgens hom, het hy vermoed dat iemand in sy erf was, op Maandagaand, die 27ste November. Inwoners moet asseblief bewus wees daarvan dat boosdoeners dikwels in die velde skuiling soek. Kriminele gebruik die beboste velde as wegkruipplek sodat wonings dopgehou kan word en in hierdie geval het hulle die gesteelde items by hul wegkruipplek gelaat.

Indien jy vermoed dat jou eiendom dopgehou word of as jy dalk onbekende mense in ’n veld naby jou woning raaksien, kontak die SAPD by 017 824 2601/02.