Veiligheidsopleiding vir die boeregemaanskap
Mike Trebble en Joe Filter (Agri Piet Retief) het opleiding aan die dames gegee

Op Saterdag, 11 November, het Joe Filter, voorsitter en Mike Trebble, lid van Agri Piet Retief se Veiligheidsafdeling, by die Markus Gemeente veiligheidsopleiding vir dames aangebied.

Vir die twee mans, is dit belangrik dat dames ‘n opleidingskursus verlaat met die selfvertroue dat hulle ook kan help in ’n noodgeval. Vrouens moet leer dat aanvallers vir hulle ook bang kan wees. Die dames is maklike maniere geleer om hulself te verdedig indien hulle in die dorp sou wees.

Voordat jy jouself in ’n noodgeval vind, moet jy besluit wat jy sal doen in verskillende omstandighede. Besluit vooraf watter maatreëls jy kan tref vir ‘n noodgeval. Dit is ook belangrik om jou kinders vroegtydig te leer wat hulle moet doen as daar ’n noodsituasie sou ontstaan. Oefen ook hierdie saam met hulle, maar wees versigtig om nie jou kinders bang te praat oor iets wat dalk nie eers gaan gebeur nie. Kinders moet waaksaam wees, maar nie bang nie.

Dit is belangrik om altyd proaktief te wees om jou veiligheid te verseker. Wees altyd bewus van wat om jou aangaan sodat jy vroegtydig gevaar kan sien en dit kan vermy. Vermy konflik indien dit moontlik is. Kom eerder uit die situasie uit voordat jy stappe hoef te neem om jouself te verdedig. Indien konflik onvermydelik is, dan word die nodige stappe geneem om jouself en jou familie te beskerm.

Wapeneienaars word aangeraai om slegs aanvallers met wapens te dreig indien hul bereid is om die wapen te gebruik, sou die situasie dit regverdig. Dit is egter belangrik om te onthou dat alle handelinge in so geval binne die raamwerk van die wet moet geskied. Dit is ook belangrik om te weet wat jy in jou huis kan gebruik as ’n wapen.

In ’n noodgeval, kan enigiets van ’n pan tot oondskoonmaker of die pot rys wat jy besig is om te kook help om jou lewe te red. Dink aan moontlike wapens voordat jy in ’n situasie is waar jy dit dalk kan benodig. Hou ook in gedagte dat ’n liggaamshouding en stemtoon wat selfvertroue toon moontlik jou aanvaller kan intimideer en laat besluit om eerder op die vlug te slaan. Moet nooit jou aanvaller onderskat nie en moet nooit jouself oorskat nie.

Die nodige opleiding kan jou egter in staat stel om as oorwinnaar van ‘n noodsituasie weg te stap. Indien jy, in ’n poging om jouself te verdedig, ’n aanvaller beseer of doodgemaak het, moet verkieslik nie jou man, pa of broer bel om jou te kom help nie. Dit is belangrik dat jy rustig en kalm bly wanneer jy met die polisie praat en hierdie familielede mag dalk emosioneel wees en dit laat voorkom of julle die polisie verhinder om hulle taak uit te voer.

Kontak eerder iemand van ’n buurtwag of van ’n veiligheidsmaat- skappy wat jou sal kan help om kalm te bly. As jy nog in ’n toestand van skok is, maak gebruik van jou stilswye en moet nie ‘n verklaring aflê nie. Jy kan die situasie rofweg vir die polisie skets, maar sonder detail. Probeer om te kyk hoe jou aanvaller lyk en om na identifiseerbare merke soos ’n tatoeëermerk of ’n geboortevlek op te let wat die polisie kan help om die verdagte later te help identifiseer.

Indien daar ’n radio in jou huis is, leer om dit te gebruik. Leer wat die korrekte prosedure is om vir hulp met die radio te roep en raak gemaklik met hoe die toestel werk. Leer om die fonetiese alfabet (Alpha, Bravo, Charlie, ens.) te gebruik, aangesien dit makliker is om ’n nommerplaat op hierdie wyse korrek weer te gee. Daar is verskeie organisasies in Piet Retief vir wie dit belangrik is om jou en jou huis veilig te hou.

Dit is belangrik om deel te word van so ‘n organisasie, sodat jy so vinnig as moontlik die regte hulp kan kry in ’n noodgeval. Hierdie veiligheidslede is baie passievol oor veiligheid en sê hulle sal eerder verniet uitry na jou huis toe vir ’n vals alarm as wat jy dalk aangeval word. Indien enige belangstellende met Agri Piet Retief in kontak wil tree, kontak gerus vir Joe Filter by 082 662 7706.