Piet Retief Krieketklub storm voort
Henk Nel en Alwyn Carstens saam met Gert van der Walt

Die naweek het die Piet Retief Krieketklub se premierspan ‘n T20-wedstryd teen die Bulldogs in Secunda gespeel en die Eagles het ‘n 50-beurt in Embalenhle (buite Secunda) teen Embalenhle gespeel.

Na verlede week se goeie wen, was die premierspan hoogs gemotiveerd vir hul wedstryd teen Sasol. Henk Nel het die loot gewen, en Sasol ingestuur om te gaan kolf. PRKK se boulwerk was weereens van uitstaande gehalte en Sasol eindig op 116 vir 6 na hul 20 beurte. Henk Nel lewer uitstekende boulwerk en eindig met 2 paaltjies vir 15 lopies na 4 beurte.

Hy bewerkstellig ook ‘n mooi uithardloop van ‘n kolwer. Die ander paaltjies word geneem deur Anthony Yiollaris (2 paaltjies vir 25 lopies na 4 beurte) en Alwayn Carstens (1 paaltjie van 26 lopies na 4 beurte). Francois Kroukamp se vuurdoop as paaltjiewagter is uiters suksesvol en hy sorg vir 1 vangkans en 2 stonkkanse agter die paaltjies.

PRKK steek die teiken maklik verby en eindig met 120 vir 4. Daar word goeie bydraes gelewer deur Alwyn Carstens (30, nie uit nie), Estean Sauerman (22) en Francois Kroukamp (21). Die Harcourts Bouler word toegeken aan Henk Nel, en Alwyn Carstens word aangewys as beide Harcourts Kolwer en Wimpy Man van die Wedstryd.

Die Eagles, onder kapteinskap van Marco Gripp, het egter nie so ‘n maklike wedstryd gehad nie. Die span het in Embalenhle gespeel en reeds met hul aankoms was dit duidelik dat daar ‘n vuurwarm ontvangs op hulle wag. Daar was stakings en brande wat naby die veld gewoed het en van die spelers is deur die polisie na veiligheid begelei.

Die wedstryd het wel voortgegaan en die boulers is goed getoets. Embalenhle eindig op 263 vir 7 na 50 beurte. Jaques Nel, Robin Pearce en Reder Gripp neem elk 2 paaltjies. Weens ernstige winde wat die dag opgesteek het, word daar baie wydlopers geboul.

Die span staan 39 lopies af met wydlopers. Die kolwers moes goed bontstaan teen die opponente se boulwerk. Die enigste noemenswaardige tellings is Reder Gripp met 24 lopies, Iman Rens met 18 lopies en Jeandre Drury met 39 lopies.

Die Eagles wen egter steeds die wedstryd op ‘n tegniese punt. Dit het aan die lig gekom dat Embalenhle 6 van hul premierspelers vir die wedstryd gebruik het, wat nie toegelaat word nie. Die Eagles verdien dus 5 punte vir die wedstryd.

Eerskomende naweek speel die premierspan teen Ermelo, weg, terwyl daar tuis, op Hoërskool Piet Retief se velde, ook ‘n derby plaasvind. PRKK se twee promosiespanne speel teen mekaar in ‘n amptelike ligawedstryd.

Dis ‘n kwessie van broer teen broer, buurman teen buurman en vriend teen vriend. Die vonke gaan beslis spat. Al die spanne word sterkte toegewens met die opkomende wedstryde.