Krieketseisoen begin op ‘n hoë noot
Baie geluk aan Juan Fryer en Francois Kroukamp

Na talle voorseisoen wedstryde, het die amptelike Krieketseisoen vir die Piet Retief Krieketklub die afgelope naweek op ‘n hoë noot begin.

Wedstryde is geskeduleer vir die twee Promosieligaspanne, die Piet Retief Rhinos en die Piet Retief Eagles, maar ongelukkig het albei spanne se wedstryde uitgereën. Die spelers was gemotiveerd en reg om goeie krieket te speel, so almal was teleurgesteld dat die wedstryde nie kon realiseer nie.

Die Premierspan se wedstryd het wel op Sondag, 8 Oktober, teen Embalenhle (in Secunda) plaasgevind in die Premierliga van Mpumalanga Titans in ‘n T20 wedstryd, op Hoërskool Piet Retief se velde. Henk Nel van die PRKK wen die loot en besluit om eerste te boul. Reeds in die derde beurt word die eerste paaltjie deur hom geneem met ‘n swaaibal. Embalenhle skop vas, maar Juan Fryer neem in die sesde beurt sy eerste paaltjie, met die telling op 23. Die opponente se kolwers moes behoor-lik bontstaan teen die skitterende boulwerk van die plaaslike boulers.

Juan Fryer eindig die wedstryd met ‘n pragtige vier paaltjies in vier beurte. Die ander boulers eindig met die volgende syfers: Henk Nel met 2/14, Freedom Buthelezi met 2/23, Alwyn Carstens met 1/26 en Francois Kroukamp met 1/32. Die tuisspan het ook uitstekende veldwerk gelewer. Hier word Francois Kroukamp uitgesonder met vier vangskote. Die vangskoot van die dag word egter aan Arrie Coetzee toegeken, wie uitstekend op die paaltjiewagter posisie was.

Na 19.1 beurte, eindig Embalenhle met 123 lopies. PRKK domineer hierna die boulwerk met goeie, bestendige kolfwerk. Die openingskolwers, Francois Kroukamp en Marcel Hinze, bly onoorwonne voor die paaltjies en steek die teiken van 124 lopies reeds in die veertiende beurt verby. Francois Kroukamp behaal 59 lopies, Marcel Hinze 54 lopies en daar is nog 10 ekstra lopies behaal. PRKK behaal dus ‘n oorwinning van tien paaltjies en verdien vyf punte, bonuspunte ingesluit, vir die uitstekende wen.

Die Harcourts Bouler toekenning gaan aan Juan Fryer en Francois Kroukamp ontvang beide die Harcourts Kolwer toekenning en Wimpy Man van die Wedstryd. Eerskomende naweek speel al drie spanne wegwedstryde. Die Premierspan speel in Secunda teen Sasol, die Rhinos speel teen die Frogs in Ermelo en die Eagles speel teen Embalenhle in Embalenhle. Sterkte aan al die spanne.