reünie
HPR 80 Jaar groot reünie

HPR 80 Jaar groot reünie. As Assegaaiwater eenmaal deur jou are vloei. . . En as jou skoolskoene deur HPR se gange beweeg het, dan is die Assegaai se water saam met jou trots, dit is wat mens lewenslange herinneringe noem.

Soveel mense wat hier deur HPR se onderwysers onderrig is, het al soveel hoogtes bereik en al was die motivering slegs die wil om jou onnie verkeerd te bewys, of dat hierdie skool die goeie fondasies vir jou blink toekoms gelê het. Hoërskool Piet Retief het reeds van 80 jaar gelede af sy deure vir die gemeenskap oopgemaak en baie se toekoms ten goede verander.

Hierdie besonderse jaar is díe jaar waar ons gaan saamtrek en groot herinneringe beleef. Op 14 Oktober 2017 gaan Pieties by die skool feesvier. Die dag se verrigtinge gaan as volg wees: Van 13:00 tot 17:00 is registrasies en teetuin by ons sporthuis.

Daar gaan ook elke uur ‘n begeleide toer deur die skool wees waar ons terug in tyd gaan delf maar ook vir julle die nuwe tegnologie van die skool sal wys. Van 17:00 tot 19:00 gaan aandete bedien word. U gaan smul aan die feeskos wat insluit skape op die spit, 100 hoenders op die spit en dan lekker potjiekos. 19:30 gaan mnr. Bouwer sy amptelike toespraak lewer en daarna wag ‘n genotvolle verrassing.

Deur die dag gaan ons al die oud-skoliere en oud-personeel en hulle gades vermaak met van ons kultuur items. Daardie aand het ons plaaslike talent genooi om gaste te vermaak. Kaartjies vir die geleentheid is te koop by die skoolkantoor of kontak Marijke by selfoonnommer: 072 1997 118 of e-pos ons by 80jaargroot@gmail.com

Kaartjies beloop R300 per persoon en dit sluit ‘n geskenkie in en baie lekker feeskos. U sal elke sent in waarde terugkry. Wie is genooi? Enigiemand wat ‘n verbintenis met die skool het en al gehad het. Die personeel nooi huidige ouers ook uit om kaartjies te koop. Kom deel julle staaltjies en sien waarheen ons skool op pad is. U het gehelp bou aan hierdie skool.

Al die koshuisbrakke wat die gras water gegee het en elke leerling wat bakstene help aflaai het vir die Jack Botes Stadion. Elke leerder wat geveg het vir nuwe haarstyle en ook selfs mense wat gesorg het vir goeie sportuitlsae, die mense wat gehelp het om nuwe tradisies te skep en wat gehelp het om ou tradisies behoue te laat bly!

Gaan na www.hsprweb.com/hpr-alumni-1 en registreer sommer vandag.