Tydens twee ongelukke die afgelope week, is daar ernstige beserings opgedoen en ‘n paar mense het beswyk.
Die BMW nadat dit gerol het

Tydens twee ongelukke die afgelope week, is daar ernstige beserings opgedoen en ‘n paar mense het beswyk.

Op Vrydag, 22 September, om 01:00, het die bestuurder van ‘n silwer BMW sy voertuig gerol omtrent 50 kilometer buite Piet Retief, onderweg na Pongola. Die Nooddienste kan nog nie bevestig of die bestuurder meer as die spoedlimiet gery het of aan die slaap geraak het nie.

Die voertuig het die pad verlaat, dit het gerol en die insittendes is uit die voertuig geslinger. Daar word vermoed dat die insittendes het veiligheidsgordels aangehad het nie. Drie persone het op die toneel gesterf en die vierde persoon is in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem.

Accident
Die Corolla het vermoedelik nie in die regte baan gery nie en het toe in die Corsa en lamppaal vasgery

Op Sondag, 24 September, om 17:00, was ‘n blou Toyota Corolla en wit Corsa bakkie in ‘n ongeluk op die Wakkerstroompad, net anderkant M & R Olie Depot. Die bestuurder van die Corsa het gesê dat die bestuurder van die Corolla nie in sy baan gery het nie, maar heen en weer oor die pad.

Toe hy ‘n geleentheid kry, het hy die Corolla verbygesteek om ‘n moontlike ongeluk te probeer vermy. Hierna het die bestuurder van die Corolla in die Corsa vasgery, waarna hy ook in ‘n lamppaal vasgery het en die voertuig het op sy dak tot stilstand gekom. Daar is vier persone lig beseer tydens die ongeluk. Nooddienste is nog besig om die ongeluk te ondersoek, maar daar word vermoed dat die bestuurder onder die invloed van alkohol bestuur het of moontlik aan die slaap geraak het.

Bestuurders word gevra om te alle tye waaksaam te wees wanneer hulle bestuur. Beide die bogenoemde ongelukke het gebeur as gevolg van bestuurders wat moontlik moeg was. Om altyd uitgerus te wees wanneer jy bestuur is een maklike manier om te verseker dat jy jou eie lewe, en die lewens van ander padgebruikers, veilig kan hou.