Praktiese Skietklubnuus
JC Potgieter by die “IPSC World Shoot 2017

Dit is met trots dat ons kan sê dat ons eie junior baasskut, JC Potgieter, hierdie week Suid-Afrika verteenwoordig op die “IPSC World Shoot 2017”.

JC is deel van die Suid-Afrikaanse span wat die beste pistoolskuts in die wêreld die stryd aansê by die Wêreldkampioenskappe wat van 27 Augustus tot 3 September te Châteauroux, Frankryk plaasvind. JC het die afgelope jaar baie hard geoefen, en pluk nou die vrugte van die baie ure wat hy aan die sport spandeer het.

Hier op die foto staan JC by Eric Grauffel, die IPSC wêreldkampioen vir die laaste ses jaar al. Eric sê hy het al meer as drie miljoen skote geskiet vandat hy by skietsport betrokke geraak het. Dis net nog ‘n bewys – wat jy saai, sal jy maai! Die twee manne is ‘n goeie voorbeeld vir ons, in alle fasette van ons lewens.

Sterkte JC, mag die koeëls reguit vlieg! Vir meer besonderhede oor ons doen en late, skakel gerus ons voorsitter Denzil by 083 625 1345. Hy sal al jou vrae kan beantwoord. Kom gee die gogga kans om te byt, daai byt laat jou dalk by eksotiese bestemmings uitkom. Vra maar vir JC, dit is ‘n LEKKER byt! Wederom, Lood.