Barnyard
Fontana Gemeente se Barnyard 2017 was briljant!

Die jaarlikse Barnyard @ Fontana Gemeente het hierdie jaar vanaf Dinsdag, 29 Augustus, tot Vrydag, 1 September plaasgevind.

Met die tema “Klank van Kleur”, was dit van pas om kleurvolle Chinese lanterns oral in Fontana se voorportaal te sien. Die verhoog, wat vir hierdie geleentheid gebou is, was ook kleurvol. Om in te pas by die tema, is ‘n verskeidenheid liedere gekies wat kleure in die titel het. Die musiekgroep het die besoekers op ‘n reis van donker na lig geneem.

Die program het afgeskop met Paint it Black, wat gereeld gebruik word in films en dokumentêre programme oor die Viëtnamese Oorlog. Verder is Colourful, Groen Trui, Colours of the Wind, True Colours, Blou en Purple Rain opgevoer om by die tema te pas.

Om by te dra tot die atmosfeer van die aand, is Hennie Smit gevra om seremoniemeester by die geleentheid te wees. Indien die naam nie dadelik ‘n klokkie lui nie, behoort Bertie van Egoli dalk helderheid op die onderwerp te gee.

Hennie Smit is ‘n bekende akteur, sanger en komediant van Suid- Afrika. André van Wyk het ook ingestem om op te tree as klankingenieur vir die week. Hy is een van die land se beste klankingenieurs.

Nadat hy in ‘n ongeluk was, het die dokters gesê hy gaan van sy nek af ondertoe verlam wees. Verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars het saam “’n Konsert vir ‘n Vriend” gehou om André te help om sy mediese onkostes te dek.

Tydens hierdie gebeure en sy genesing, het André tot bekering gekom. Vandag loop André weer en kan hy sy liefde vir musiek steeds deur sy professie uitleef. Maar, al die talent vir die aand was nie ingevoer nie. Daar is van plaaslike talent gebruik gemaak om die musiekgroep saam te stel.

Daar was iets van alles tydens die geleentheid – van rock tot klassieke musiek en alles tussenin! Die verskeidenheid van musiek was deur ‘n diverse groep mense gevier tydens die Banyard @ Fontana vir 2017.