Weghol-bus tref apteek
Die deur wat in die winkel geland het tydens die insident

Op Maandag, 10 Julie, het ‘n Weghol-bus teen 14D Apteek, in Markstraat, vasgerol nadat die bestuurder vermoedelik uit die voertuig geklim het sonder om die handrem ordentlik op te trek.

Die bestuurder het in Ermelo se rigting gery in Markstraat en daar is deur personeel van Link Up Sekuriteit bevestig dat die bestuurder voor hul kantore parkeer het. Die bestuurder het uitgeklim om iets te ete te kry, maar het die voertuig gelos om te luier.

Daar word vermoed dat die bestuurder nie die handrem behoorlik opgetrek het nie, wat daartoe gelei het dat die voertuig agteruit gerol het. Die voertuig het oor die pad beweeg en het teen 14D Apteek tot stilstand gekom.

Die bus het die afdak, voor die apteek se ingang, beskadig en die deur van die winkel heeltemal uit sy raam gestamp. Ooggetuies beweer dat ‘n polisieman, wat eerste op die toneel aangekom het, nie die bestuurder se alkoholvlak gemeet het nie, maar dat ‘n lid van die Verkeersafdeling hom wel laat blaas het en hy het 0.41 mg/L getoets.

Die limiet om wettiglik te mag bestuur is 0.24 mg/L. Daar is deur die hoof van die Verkeersdepartement, mnr. Lucky Ngozo, bevestig dat hierdie lesing wel korrek was. Verder beweer ooggetuies ook dat die bestuurder nie op die toneel in hegtenis geneem is nie, aangesien hy en die polisieman op die toneel mekaar blybaar geken het, maar die Verkeersdepartement beweer dat hy wel in hegtenis geneem is.

Die SAPD is ook gekontak om te bevestig wat werklik gebeur het, maar aangesien hulle sisteme van lyn af was kon hulle geen inligting bekend maak nie. Daar sal wel met die plaaslike SAPD opgevolg word om te bepaal of die bestuurder in hegtenis geneem is of nie.

Die verkeersbeampte het wel vir die bestuurder ‘n boete gegee omdat hy sy voertuig, wat geluier het, sonder toesig gelos het. Indien die plaaslike SAPD vir die Excelsior Nuus terugvoer gee oor die insident, sal dit aan die publiek bekend gemaak word.

Weghol-bus tref apteek
Die afdak voor 14D Apteek is erg beskadig en die voordeur uitgestamp