Ongelukverslag
Die Volkswagen wat op 2 Junie gerol het op die Ermelopad

Ongelukverslag. Gedurende een van die afgelope week se ongelukke, het ‘n kind gesterf. Was ‘n minibus-taxi en Toyota bakkie in ‘n kop-aan-kop botsing.

Die bestuurder van die bakkie was op pad na Driefontein toe hy ‘n voertuig verbysteek. Hy het nie die aankomende minibus-taxi gesien nie. Die minibustaxi het gerol en elf mense het ligte beserings opgedoen. Om 20:30, op Vrydag 2 Junie, het die bestuurder van ‘n Volkswagen op die Ermelopad vermoedelik aan die slaap geraak.

Toe die bestuurder van die pad afry en op die grond te lande kom, het hy wakker geskrik, die voertuig tot terug op die pad geruk, beheer verloor en gerol. Daar is een persoon kritiek en nog het ligte beserings opgedoen. Op Sondag, 4 Junie, was daar ‘n ongeluk tussen ‘n voertuig en ‘n swaarmotorvoertuig op die Pongolapad.

Na bewering het die twee bestuurders self die situasie uitgesorteer, aangesien daar geen verslag hiervan is nie. Toe die bestuurder van die swaarmotorvoertuig weer op die pad beweeg, het ‘n minibus-taxi wat van agter gekom het uitgeswaai om die swaarmotorvoertuig verby te steek en het teen ‘n aankomende bakkie gebots. Alhoewel albei voertuie ernstig beskadig is, is daar geen beserings opgedoen nie.

Om 16:00, dieselfde dag en ook op die Ermelopad, het die bestuurder van ‘n Kia-voertuig beheer verloor en van die pad afgery en op die los grond langs die pad gerol nadat dit moes uitswaai vir ‘n houtvragmotor. Daar word vermoed dat die bestuurder van die Kia nie besef het hoe onstabiel die houtvragmotor se wa is nie.

Tydens die ongeluk het ‘n kind kritieke beserings opgedoen en nuus is later ontvang dat die kind in die hospitaal oorlede is. Daar is ook nog twee persone lig beseer. Plaaslike bestuurders is bewus daarvan dat die Ermelopad nie ‘n veilige pad is om te ry nie en die gebrek aan skouers en skerp rante voordat daar los grond is, is ‘n ernstige probleem.

Wees daarom bedag dat ‘n voertuig met ekstra versigtigheid bestuur moet word hier, veral as daar dalk van die pad afgery word. Wees ook altyd waaksaam op dié pad, aangesien daar baie kansvatters, blinde hoogtes en skerp draaie is wat groot gevaar inhou.