Bosbou Gholfdag

Op Vrydag, 19 Mei en Saterdag, 20 Mei, was dit amptelik tyd vir die jaarlikse Bosbou Gholfdag te Piet Retief en ondersteuners het van oral af aangekom om die dag te geniet.

Daar kan met trots gesê word dat die R1 miljoen mikpunt hierdie jaar oorskry is sedert die eerste jaar wat die gholfdag aangebied is en ’n nuwe rekord van R500 000-00 vir liefdadigheid is hierdie jaar ingesamel.

Die Bosbou Gholfdag groei jaarliks en dit was weereens ’n puik dag! Verrigtinge het Vrydag afgeskop met ’n funksie vir 250 mense. Fanie de Villiers (Vinnige Fanie) en Piet Potgieter het kom besoek aflê in Piet Retief en hul het die gaste vermaak terwyl ’n heerlike driegangmaaltyd genuttig is. Daar is ook ’n veiling gehou en die gaste het voorwaar hul hande diep in die sak gesteek om dit te ondersteun.

Daar was ook ’n lootjie-verkope gedurende die funksie waar lootjies gekoop kon word hetsy Vrydag of Saterdag. Baie geluk aan die wenner hiervan, Francois Kotze, wat Saterdag as die wenner aangekondig is. Saterdag, omstreeks 06:15, het die spanne begin afslaan. Die weer het lieflik saamgespeel en ’n totale aantal van 116 spelers het deelgeneem op die dag. Met 14 watergaatjies het niemand dors (of honger) gelei nie en daar is behoorlik tyd afgestaan by elke gaatjie om geselsies aan te knoop.

Na ’n propvol dag van gholf, pret en plesier was dit tyd vir die aandfunksie waar daar weereens ’n veiling gehou is. Fanie en Piet het die veiling behartig en die gaste het nie geskroom om ’n paar rand ekstra by te las nie. Sommige items is opgeveil en weer teruggegee sodat dit vir ’n tweede keer opgeveil kon word.

Puik gees, inderdaad! Ongelukkig kon niemand dit regkry om een van die vier “Hole in One”- pryse los te slaan nie, maar daar is altyd ’n volgende keer en volgende jaar sal die deelnemers weer met mening probeer. Kort voor lank was dit tyd vir die prysuitdeling en die mense het behoorlik saamgedrom om van die fantastiese pryse op te raap. Elke speler het gebaat uit die funksie deur ’n prys te ontvang. Baie geluk aan TWK Meganisasie wat as die wenners van die dag weggestap het met 110 punte en wat met ’n uittel gewen het.

Longest Drive vir die mans is toegeken aan GW Grobler en vir die dames was dit Engela Niebuhr. Nearest to the Pin-wenners was onderskeidelik Jean Erasmus op nr. 4/13 en Swazi Nel op nr. 6/15. Baie geluk aan elke span en individuele wenner! Na die prysuitdeling is daar heerlik saamgelag en gekuier en ’n mens kon tussen die skare mense werklik ’n gemoedelike atmosfeer aanvoel.

’n Smaaklike ete is voorgesit en die mense het behoorlik tougestaan vir ’n tweede skeppie. Aan die einde van die naweeklange funksie kon ’n mens nie anders as om dankbaar te wees vir ’n gemeenskap soos Piet Retief s’n nie. Die komitee wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elke persoon, besigheid en span hartlik te bedank vir al die ruim bydraes.

Sonder al die borge wat verskeie items geskenk het, sou dié jaar se Bosbou Gholfdag nie so suksesvol kon wees nie en dit is werklik ’n riem onder die hart om te sien dat die gemeenskap van Piet Retief steeds saam kan staan en mekaar kan ondersteun. Volgende jaar hierdie tyd is dit beslis wéér sulke tyd, maak gerus ’n nota en moenie dit misloop nie!