Piet Retief Rugbyklub takel Vryheid
Piet Retief Rugbyklub takel Vryheid

Op Saterdag, die 6de Mei, het Piet Retief Rugbyklub teen Vryheid Rugbyklub te staan gekom op Piet Retief se tuisgronde.

Die pawiljoene het gekreun onder kranige rugbyliefhebbers en die tweede span het omstreeks 14:00 afgeskop. Dit was voorwaar ’n tawwe wedstryd tussen die voorlopers van die liga (Piet Retief) en die tweedes van die liga (Vryheid). Goeie spanwerk en uitstekende vaardighede van beide spanne het bygedra tot ’n spogwedstryd.

Piet Retief wen die wedstryd met ’n naelskraap oorwinning van 25-24. Baie geluk aan die spelers van die wedstryd wat Tiaan Bekker vir die voorspelers en Timothy Pretorius vir die agterspelers was. Die opbou van spanning en opgewondenheid terselfdertyd kon met ’n mes gesny word soos wat die toeskouers geduldig gewag het vir die eerste spanne om uit te draf.

Vanaf die afskop was dit duidelik dat hierdie twee spanne hul storie ken maar Piet Retief het eerste punte aangeteken met ’n pragdrie. Teen rustyd was die telling 20-12 in Vryheid se guns. Tydens rustyd is daar harde woorde gepraat en Piet Retief het verwoed terugbaklei. Vryheid het natuurlik ook nie gaan lê nie en het Piet Retief se verdediging goed op die proef gestel.

In die laaste paar minute van die wedstryd het Vryheid die bal onderskep en in die hoekie ’n drie gedruk. Helaas, stap Vryheid weg as die oorwinnaars met ’n eindtelling van 25-24. Spelers van die wedstryd is toegeken aan Xander de Beer en Christiaan van Zuydam.

Neem kennis dat Piet Retief Rugbyklub op Saterdag, die 13de Mei, teen Volksrust te staan kom, in Volksrust. Die volgende tuiswedstryd vind plaas op die 20ste Mei teen Sentraal – moet dit nie misloop nie!