Oupa- en Oumadag by Elfieland Kleuterskool
Twee oumas saam met hul pragtige kleinkinders

Oupas en oumas maak die wêreld ’n bietjie sagter, ’n bietjie vriendeliker en ’n bietjie warmer.

Elfieland Kleuterskool het op Woensdag, die 26ste April, ’n oupa- en oumadag gehou waar die kleinspan se oupas en oumas uitgenooi is om ’n heerlike bederf te kom geniet.

Die kleuters het die gehoor bekoor met pragtige liedjies wat hulle gesing het, asook die oulikste gedigte wat hulle voorgelees het. Elke oupa en ouma het ’n inkopiesak, met sy/haar kleinkind se handafdrukke daarop, ontvang as ’n geskenk om vir hulle te wys hoeveel hulle waardeer word. Na die verrigtinge is die oupas en oumas bederf met ’n heerlike sny kaaskoek en ’n pasteitjie saam met ’n koppie koffie of tee.

Daar is behoorlik gekuier en gelag en ’n mens kon sien hoe trots die kleuters op hul oupas en oumas is. Dit was ook baie duidelik dat die grootouers met ’n vonkel in hul oë na hul kleinkinders kyk! Die personeel van Elfieland Kleuterskool wil graag hiermee hul borge bedank vir elkeen se ondersteuning en donasies.

Baie dankie ook aan die mammas vir al die harde werk wat bygedra het tot die onvergeetlike byeenkoms. Ek hou daarvan om saam met oupa en ouma te loop Hul treë is kort soos myne Hul sê nie: “Loop vinniger” nie en Vat altyd hul tyd Ek hou daarvan om saam met ouma en oupa te loop Hul oë sien soos myne Die klein klippies op die pad, ’n mooi wolk Of doudruppels op die blare raak Die meeste mense loop vinnig; Hulle stop glad nie om te kyk Ek is so bly die Here het my oupa en ouma gemaak; Stadig en jonk – soos ek!