Grondhervorming by Shepstone – ’n totale ramp!
‘n Ou murasie is al wat staande is van ‘n eens pragtige sandsteen gebou (SAUK Nuus webtuiste)

In ’n artikel op die SAUK Nuus se webtuiste, geskryf deur Elizaan de Koker, word daar berig oor die mislukte grondhervorming van ’n spogplaas, Shepstone, naby Lothair in Mpumalanga.

“Verhongerde varke, plakkershutte tussen kniehoogte gras en ’n stukkende windpomp by ’n boorgat” is al wat oorgebly het nadat die staat die grond by die oorspronklike eienaar gekoop het en dele daarvan aan begunstigdes van ’n grondhervormingsprojek verhuur het.

Blykbaar het die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake onlangs besluit om die huurooreenkoms te kanselleer indien die huurders nie geldige redes kan lewer oor hoekom hulle nie van die grond af verwyder moet word nie. Die begunstigdes huur blykbaar onder die naam van Mpumalanga Explorers en hulle wou met beeste boer, maar daar het niks van gekom nie.

Een van die begunstigdes het selfs op eie stoom die plaas aan ’n kommersiële boer in die omgewing verhuur – vir weivelde vir sy beeste. Daar word ook in die berig verder beweer dat die res van die begunstigdes nie ’n sent van die huurgeld ontvang het nie en hul paaie het geskei. Die ontevredenes het toe blykbaar hul eie groep, Sizanani maAfrica, gestig en vir nóg grond aansoek gedoen.

Grondhervorming by Shepstone – ’n totale ramp!
Die grondpad na Shepstone is heeltemal toegegroei (SAUK Nuus webtuiste)

“Die begunstigdes sê hulle kon nie die plaas ontwikkel nie, want die regering het vir hulle nét grond gegee en geen finansiële bystand of raad nie.” Die grondpad wat na die plaas lei, is heeltemal toegegroei en ’n gewone voertuig sal nie tot by die plaashek kan ry nie.

Die ou sandsteenhuis is basies tot op die fondament afgebreek en die brandmaer varke word in ’n buitegebou – sonder ’n dak – aangehou. ’n Anonieme lid van die Gert Sibande Munisipaliteit het onlangs aan Rapport uitgelap dat daar al vir ‘n aantal jare niks op die plaas Tweefontein, naby Balfour en net 200 km van Shepstone af, aangaan nie.

Hy het ook bygevoeg dat die begunstigdes van dié projek hewig onder mekaar baklei oor die bestuur van die betrokke plaas. Volgens Zanele Sihlangu, ’n woordvoerder vir die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake in Mpumalanga, word daar gereeld roetine besoeke aan die plase, wat aan die staat behoort, afgelê.

Die jongste verslag aangaande Shepstone en Tweefontein lui ondermeer dat daar tans onderverhuring plaasvind en dit is teen die grondverhuringsbeleid. Danie du Plessis van die landbouorganisasie, TLU SA, het bygelas: “Die staat besit reeds soveel grond wat onbenut is of waar grondhervormingsprojekte skeefgeloop het.

Gee liewer die grond aan samewerkende groepe as deel van grondhervorming en los die kommersiële boere met rus.”