Kaleidoskoop behaal uitmuntende prestasies
Susan Coetzee, spreker by die konferensie, saam met Rika Wolmarans en Rika Potgieter

Die lang verwagte konferensie te Amersfoort op die 25ste Februarie was inderdaad die kersie op die koek, oftewel blommekroon, vir dié streek se pragtige skeppings.

Die kuiertjie by Elrene Bloemiste het definitief ’n reuseverskil gemaak, want die dames van Kaleidoskoop se blommerangskikkings het almal verras en ’n 2de en 3de plek in die Middelbaar behaal met nóg ’n derde plek in die Beginnersafdeling. Baie dankie Sylvia, deur jou positiewe kommentaar en hulp was dit moontlik vir dié dames om hulself uitstekend van hul taak te kwyt!

Baie geluk ook aan Babie Jacobs wat met niks minder as 10 sertifikate en toekennings weggestap het nie! Dié dames van Kaleidoskoop kan met trots sê dat hulle vir seker ’n voorslag-voorsitter het wat boonop ’n goeie voorbeeld vir elkeen is. Nietemin is Kaleidoskoop ook aangewys as die tak met derde meeste punte. Knap gedaan dames! Baie dankie vir elkeen se harde werk en die pogings wat aangewend is.

VLU-Kaleidoskoop wil graag hiermee ook die VLU-Piet Retief tak hartlik gelukwens met die tweede meeste punte wat behaal is vir die streek – dit wil gedoen wees! Sedert die konferensie, het Kaleidoskoop al reeds ’n werksklas ingewerk en is daar gretig geleer hoe om strykplankoortreksels te maak en hulle het ook danig aan hulle spogvoorskote gewerk.

Met die volgende vergadering, op die 18de April, beoog die dames om hulle kleutervoorskootjies in te handig – wat ’n interessante projek om aan te werk! Kaleidoskoopgroete.

Kaleidoskoop behaal uitmuntende prestasies
Baie geluk aan Babie Jacobs met niks
minder as 10 sertifikate nie