Fenominale rugby dra by tot ‘n suksesvolle Rugbydag 2017
Toit Thomas het die geleentheid gehad om saam met al drie sy seuns Adriaan, Andrew en Alex uit te draf en te speel

Op ‘n bedompige Saterdag, die 4de Maart, het Piet Retief Rugbyklub hul jaarlikse rugbydag aangebied.

Met ‘n totaal van sewe senior rugbywedstryde wat gespeel is, was dit omtrent ‘n bedrywige geleentheid. Verskeie klubs het deelgeneem aan dié betrokke dag. Piet Retief, Barberton, Vryheid, Newcastle, Ermelo, Standerton, Pongola en Sentraal (Dundee) se rugbyspanne het almal gesorg vir aanskoulike rugby en ‘n genotvolle dag. Teen omstreeks 10:30 is daar deur die tweede spanne afgeskop. Wedstryde het soos volg plaasgevind:

2de Spanne

• Ermelo (34) vs Vryheid (21)

• Standerton vs Newcastle

• Piet Retief (31) vs Barberton (12)

• Pongola vs Sentraal (Dundee) 1ste Spanne

• Ermelo (13) vs Vryheid (15)

• Standerton (21) vs Newcastle (40 )

• Piet Retief (20) vs Barberton (5), soos ontvang deur Johan Pretorius.

Families, vriende en toeskouers het die dag terdeë geniet! Daar was die allerheerlikste kos te koop en ‘n pretpark om die kleinspan besig te hou. Toeskouers het behoorlik op die randjie van die pawiljoene, vasgenael bly sit.

Daar was ook die geleentheid vir familielede om saam op die veld te draf. Vir ‘n tweede keer in dié gewilde rugbydag se geskiedenis, kon ‘n pa en sy seuns uitdraf en die Piet Retief Rugbyklub se naam omhoog hou. Baie geluk aan Toit Thomas en sy drie seuns, Andrew, Alex en Adriaan, wat hierdie geleentheid aangegryp het.

Al het ‘n paar donderwolke die belofte van reën gebring was die rugbydag van 2017 ‘n reusesukses en die organiseerders sowel as die lede van die Piet Retief Rugbyklub wil graag ‘n hartlike dank aan elkeen rig wat by die dag betrokke was met al die reëlings asook vir elkeen wat die klub ondersteun het. Graag word dié jaar se borge ook bedank. Onthou, Piet Retief speel die 11de Maart teen Standerton op Standerton en op die 18de Maart weer teen Newcastle op ons tuisgronde. Kom maak gerus ‘n draai en ondersteun die manne!