Genadiglik mis Sikloon Dineo Piet Retief
Met berigte van die tropiese sikloon Dineo, wat Suid-Afrika in die middel van verlede week sou tref was Jan Alleman op hul hoede en het mense hulself begin voorberei vir die ergste.

Daar kan tans bevestig word dat die sikloon Piet Retief nie getref het nie en dat die dorp baie lig daarvan afgekom het as ’n mens sou kyk na beeldmateriaal van dele in Mosambiek, waar dié sikloon behoorlik amok gemaak het.

Op Dinsdag, die 14de Februarie, het die Facebook-blad Storm Report SA bevestig dat Dineo se maksimum windspoed ’n hoogtepunt van 102 km/h behaal het. Daar is later beweer dat die windspoed orkaanhoogte kan bereik en dat mense hulself moet voorberei op ernstige skade.

Dineo het gepaardgegaan met hewige reënbuie, orkaanwinde sowel as gevaarlike hoë branders. Daar is gespekuleer dat Dineo Mosambiek teen Woensdag, die 15de Februarie sou tref. Kort nadat die sikloon Mosambiek getref het, is waarskuwings uitgestuur dat dit baie vinnig op pad is Suid-Afrika toe en dat verskeie gebiede soos Limpopo, Mpumalanga, Swaziland en KwaZulu-Natal die ergste geaffekteer sou word.

Gelukkig het die sikloon homself vinnig uitgewoed maar nie sonder om op verskeie plekke geweldige skade aan te rig nie. Volgens die Ladysmith Gazette het Dineo 7 lewens geëis en veertien mense is ernstig beseer. ’n Totaal van 170 000 mense is deur die sikloon geaffekteer met ongeveer 20 000 huise wat verwoes is en miljoene rande se skade wat aangerig is.

Nou dat die tropiese sikloon iets van die verlede is, is daar wel vir die week van 20-24 Februarie hewige reënbuie voorspel met die moontlikheid van oorstromings in provinsies soos KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga sowel as gedeeltes van Gauteng. Daar kan bevestig word dat Mkhondo baie meer reënval ontvang het voor die tropiese storm met ’n maksimum van ongeveer 82 mm, oor ’n tydperk van twee weke.