Ken-mekaar-braai
Dit het behoorlik gegons rondom die braaivleisvure

Ken-mekaar-braai – Op Sondag, die 29ste Januarie, het lede van die NG Kerk in Piet Retief weer ’n heerlike braai gehou!

Daar word elke maand ’n bymekaarkoms aktiwiteit beplan en die gemeentebraai het die jaar op ’n hoë noot afgeskop. Selfs enkellopendes het in groepe opgedaag en heerlik saamgekuier en gesels. Daar was natuurlik ook vermaak vir die kinders en die warm somerweer het perfek saamgespeel terwyl daar op die glybaan gebaljaar is.

Dit was ’n genotvolle kuier en nuwe intrekkers is ook verwelkom. Die gemeente sien uit na die volgende bymekaarkomsgeleentheid en nooi graag die gemeenskap uit om die verrigtinge saam met hulle te kom geniet.