Elke wolk het ‘n silwer randjie
Elke wolk het ‘n silwer randjie

So het elke wolk ‘n silwer randjie, kom ons almal kies Jesus as ons silwer randjies.

Voel dit dalk vir jou of jy jou alles gegee het deur die loop van 2016, net om nou op die einde te voel dat alles steeds deurmekaar en onvoltooid is?

Dit is weereens daardie tyd van die jaar wat ‘n mens totaal en al mismoedig en geïrriteerd raak. Die jaar was lank, met baie op- en afdraandes. Spanning is veroorsaak deur omstandighede in jou huwelik, dalk jou kinders en dan praat ‘n mens nog nie eers van die finansies nie.

Dalk voel dit vir jou of alles nou aan flarde is, jou bootjie is leeg en dit is dit! Soos die verhaal van Simon wat die hele nag probeer visvang het vir ‘n mens verduidelik, was hy raadop. Sy uitgooi-net was leeg, sonder sukses en hy het genoeg gehad. Maar, Jesus het hom gesien, Hy het ook geweet dat Simon die heelnag sy bes probeer het.

Verbasend genoeg weet Hy ook van jou omstandighede. Hy ken en verstaan jou “leë situasie”, al voel dit soms vir jou dat jy die oorlog in jou lewe alleen moet veg. In Simon se situasie het Jesus in sy skuit geklim en tot sy redding gekom.

Jou stryd, jou pyn en mislukkings van 2016 – onthou dat as Jesus wil, Hy dit kan en gáán gebruik om jou magtelose situasie handomkeer te verander. Hoe spesiaal is dit nie? Én hoe spesiaal is jy nie? Hy weet van jou smart en pyn. Hy weet ook van die trane wat jy snags huil. Mense om jou mag dalk nie meer omgee nie, (dalk jou man/ vrou of jou kinders), maar Jesus doen. Hy sien jou altyd raak.

“Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien.” 2 Kon. 20:5. Die slotsom van Simon se verhaal was dat hy terug in sy skuit geklim het, maar dié keer saam met Jesus. Hy het geantwoord, “Here, op U Woord sal ek weer probeer.” Is dit nie juis wat elkeen van ons moet doen nie?

Moenie van jou lot af wegstap en tou-opgooi nie, plaas liewer vir Jesus aan die stuur van sake en gaan 2017 met ‘n positiewe gesindheid tegemoet. So het elke wolk ‘n silwer randjie, kom ons almal kies Jesus as ons silwer randjies. Mag 2017 vir elkeen net vreugde, liefde, seëninge en voorspoed inhou. Met Jesus aan die stuur van sake, hoe kan dit dan anders?