Mariesa en Marais Devenish saam met Elvis Blue
Mariesa en Marais Devenish saam met Elvis Blue

Op Donderdag, die 20ste Oktober, het Elvis Blue ‘n draai kom maak in Piet Retief ten bate van ‘n fondinsameling vir Mariesa Devenish.

Soos die bekende lirieke uit een van sy populêre liedjies heet: Elke mens het ‘n storie, elke mens het seer. Ek was al heel verlore, in die wind en donker weer. My wildernis was groot, en my beursie leeg. Toe gee jy my ‘n rede, ‘n rede om te glo. Mariesa Devenish het inderdaad ‘n rede gekry om weer te glo.

Soos van tevore berig, was Mariesa in Februarie 2014 in ‘n grusame ongeluk wat amper haar lewe gekos het. Sy is steeds op die herstelpad en bly positief deur elke fase van die herstelproses. Juis daarom, het die AGS Fontana Gemeente in Piet Retief ‘n fondsinsameling gereël om Mariesa se gesin te help met finansïele onkostes.

Pastoor Riaan de Bruyn het die verrigtinge geopen waarna Yolande Boshoff ‘n paar interessante feite met die gehoor gedeel het. Daar is baie min mense wat weet dat Mariesa eintlik ‘n Suid-Afrikaanse hekkiesatleet is. Kort na haar ongeluk, is daar vir haar gesê dat sy moontlik nie weer sal kan deelneem aan atletiek nie, maar deur baie harde werk en ‘n postiewe gesindheid, is sy en Yolande tans besig om hard te oefen op die atletiekbaan!

Familielede van Mariesa het ook ‘n beurt gehad om bedankings namens die familie te doen en was dit vir hulle ‘n baie emosionele ervaring. Elvis het die gehoor vermaak deur sy bekende liedjies te sing en het ook ‘n paar van sy eie lewenstaaltjies vertel.

Die kerk was stampvol en al die kaartjies was van vroeg af reeds uitverkoop. Die fondsinsameling was ‘n reusesukses en almal het die talentvolle sanger se vertoning terdeë geniet. Hopelik besluit hy om sommer gou weer ‘n draai in Piet Retief te kom maak!