speedhobbels

‘n Mens sou dink dat die plasing van speedhobbels op strategiese areas in die dorp die gemeenskap se goedkeuring sal wegdra, maar helaas wil dit voorkom of daar dalk ‘n vlieg in die salf is .

Die afgelope paar weke is daar spoedhobbels aangebring by hoofpaaie sowel as by verskeie skole. Vir ouers wat nog kinders op skool het, is hierdie die perfekte oplossing om die jaagduiwels te stuit, maar dit wil voorkom of daar ‘n paar kopsere ontstaan het by gemeenskapslede met die instelling van dié hobbeltjies.

Daar is lede van die gemeenskap wat klagtes ingedien het oor die plastiek, driehoekige hobbels in Markstraat. Die inwoners in daardie area sit in ‘n tweestryd. Hulle is baie dankbaar vir die hobbels omdat dit hoofsaaklik daar geplaas is om die veiligheid van die skoolgaande kinders te bevorder, maar in dieselfde asem is hulle ongelukkig oor die geweldige lawaai wat die vragmotors veroorsaak wanneer hulle remme aanslaan om stadig oor die hobbels te ry. Wat staan ‘n mens nou te doen?

‘n Dame van daardie area het ‘n brief gerig aan die munisipale bestuurder en probeer op hierdie wyse ‘n gepaste oplossing kry wat almal sal pas. Dan is daar die ronde, silwer hobbeltjies wat Saterdag, die 20ste Augustus, in Kerkstraat, aangebring is. Dié betrokke oggend was wer-kers van die munisipaliteit besig om die hobbels te installeer, maar voor sonsondergang is die hobbels weer verwyder?

‘n Woordvoerder van die munisipaliteit het bevestig dat hulle tans besig is met ‘n persverklaring, wat in die Excelsior Nuus geplaas sal word in die toekoms, rakende die aanbring van spoedhobbels en hoe die gemeenskapslede se klagtes opgelos kan word. Op hierdie stadium word daar geduldig gewag vir terugvoering oor die saak. Op die ou einde word die spoedhobbels aangebring vir ‘n baie eenvoudige rede …

Die veiligheid van skoolgaande kinders wat die hoofpaaie moet oorsteek wanneer die skool open en verdaag is ‘n prioriteit. Die hobbels wat aangebring is in ander areas, is ook daar weens veiligheidsredes. Daar is heelwat spoedvrate wat nie die reëls van die pad gehoorsaam nie en op hierdie wyse word die gewone bestuurder wat by die reëls bly, ook beveilig. Elkeen kan seker maar vir homself besluit of die aanbring van spoedhobbels ‘n positiewe of negatiewe ding is.

Dit is definitief nie daar geplaas om mense te verontrief nie, inteendeel, ‘n mens behoort eintlik net dankbaar te wees daarvoor, want almal maak gebruik van dieselfde paaie en ‘n mens wil sekerlik veilig by jou bestemming aankom, of hoe? Dit geld dan ook vir die ouers wat soggens en smiddae hulle kinders by die skool gaan af- of oplaai. Is dit nie eintlik ‘n vreugde om te weet jou kind kan veilig oor die hoofpaaie loop as gevolg van ‘n paar hobbeltjies wat ‘n renjaer dwing om stadiger te ry nie?