Bingo Huis Immergroen
Bingo Huis Immergroen

Alhoewel van die inwoners steeds ‘n bietjie olik voel, sien hulle altyd kans vir ‘n bietjie Bingo om die gemoedere op te beur.

Gelukkig is al die inwoners wat onlangs in die hospitaal was nou weer tuis en dit is werklik ‘n verheugenis om almal weer gesond terug te hê. Baie dankie aan die Coffee Shoppe se eienaars wat gedurende die afgelope naweek, heerlike slaaie kom aflewer het. Die inwoners het gesmul aan aartappel-, wortel- en ‘n baie kleurvolle mengelslaai. Welkom aan mnr. H. Rademeyer wat vir ‘n rukkie kom kuier het.

baie-welkom-aan-mev-alida-van-rooyen
baie-welkom-aan-mev-alida-van-rooyen

Dit is altyd genotvol om u vrolike gesig te sien en die inwoners geniet u geselskap terdeë. Huis Immergroen se personeellede en inwoners heet ook graag vir mev. Alida (Lettie) van Rooyen, ‘n nuwe inwoner, welkom! Mag u verblyf by die tehuis vreugdevol wees. Soos wat die weerstoestande nou daagliks verbeter, beplan die inwoners weer binnekort ‘n heerlike braai.

Hulle bedank graag ‘n plaaslike besigheidseienaar vir die onlangse vleisskenking wat ontvang is. Die inwoners geniet die Bingo-spelery besonder baie. Indien daar belangstellendes is wat ‘n tydjie kan afknyp om saam met hulle te kom speel, is u baie welkom. Julle sal verbaas wees om te sien hoe goed die inwoners dié speletjie kan speel!