Victorious Women in Christ kuier by HPR
Victorious Women in Christ kuier by HPR

Op Donderdag, die 28ste Julie, het ‘n groep dames van die VWC (Victorious Women in Christ), saam met die matriekmeisies van Hoërskool Piet Retief gekuier by die skool se hotelskool.

Dit was ‘n baie insiggewende aand, wat perfek by die VWC se tema van die jaar “#Fearmustfall”, ingeskakel het. Daar is heerlik gekuier en gesels. Gesprekke het gehandel oor allerhande dinge waarvoor ‘n vrou, oftewel ‘n jong dame, in haar lewe bang kan wees. Vroue is meestal almal bang vir dieselfde goed. Van ‘n vrees om verkrag te word, tot die verlies van ‘n baba is bespreek. Die dames het onder andere gesels oor die gevare van voorhuwelikse seks. Dr. Melinda de Klerk het die jong meisies toegespreek oor die gevare van die onderwerp en ook die verskillende tipes oordraagbare siektes wat opgedoen kan word.

Die gevare van aborsies is ook bespreek. Mev. Jackie Pretorius het daarna met die meisies gesels oor alledaagse dinge wat hulle lewens kan beïnvloed. Groepsdruk, asook die feit dat baie meisies dink hulle is nie “mooi” genoeg nie, was van die onderwerpe waaroor daar gesels is. Op die ou einde is daar aan die meisies vertel dat ‘n mens ten volle lewe volgens elke keuse en besluit wat elkeen self neem. Na die verrigtinge het almal saam ‘n driegangete geniet en heerlik gekuier. Die aand is afgesluit met ‘n gebed wat vir die meisies gedoen is.

Die slotsom van die aand was dat ‘n mens moet verantwoordelikheid aanvaar vir die keuses wat jy maak en daarmee saamlewe. Hoekom dan nie liewer van die begin af die regte keuses maak nie?

Die matriekmeisies van HPR het die aand terdeë geniet
Die matriekmeisies van HPR het die aand terdeë geniet