Give That Dog a T-Bone
Give That Dog a T-Bone

Give That Dog a T-Bone – ‘n Goed opgeleide hond binne die huis kan dalk net nuuskierige inbrekers hokslaan…

Sondag, die 19de Junie 2016, was daar ‘n huisbraak bevestig in Bothastraat. Die inwoners van die eiendom wat geteiken is, was nie tuis tydens die inbraak nie. ‘n Ooggetui het die petalje soos volg beskryf…

Op pad terug huis toe na kerk, omstreeks 11:20, het die ooggetuie verby die eiendom gery en gesien dat daar ‘n wit Ford Ranger dubbelkajuitbakkie in die middel van die pad staan. Daar was geweldig baie polisiebeamptes en voertuie in die straat naby die eiendom geparkeer en die area was afgebaken. Hy het gestop en gevra of alles reg is en of hy dalk kan help.

‘n Polisiebeampte het hom in kennis gestel dat hulle vermoed daar was ‘n inbraak en dat hulle nie die eie-naars in die hande kon kry nie. Hulle het bevestig dat daar bloed by die ingang was, maar hulle kon nie in die huis ingaan nie, want die hond (‘n pragtige “groot” rottweiler) wou dit nie toelaat nie. Die ooggetuie het toe besluit om self ‘n plan te maak en die huis binnegegaan.

Die wit Ford Ranger wat tot in die pad gestoot is
Die wit Ford Ranger wat tot in die pad gestoot is

Dit het heelwat oorreding gekos (met die vorige aand se oorskietkos op die stoof) en alhoewel die “hondjie” nie baie vriendelik was nie, het hy dit darem reggekry om die dier sover te kry om te kalmeer terwyl die polisiebeamptes hulle werk probeer doen het. Na verdere ondersoek is daar gevind dat daar verskeie items gesteel is en dat die boewe besig was om die voertuig ook te roof. Ongelukkig vir hulle, het die voertuig se turbo onklaar geraak en moes hulle noodgedwonge die voertuig net daar los om seker te maak hulle kom weg.

Die ooggetuie het saam met die beamptes die nabygeleë bos en veld gefynkam om gesteelde items te probeer opspoor, maar kon ongelukkig niks vind nie. Die eienaars was glad nie bewus van wat gebeur het nie, met hulle aankoms tuis was hulle vreeslik geskok. Daar was heelwat vingerafdrukke en bloedmonsters geneem op die toneel vir verdere ondersoek. Te danke aan dié “vriendelike huishond” kon hierdie kwaaddoeners nie hulle taak ten volle verrig nie en moes hulle maar gebyt en ontevrede die hasepad kies.