Tegnologiese Nostalgie
Tegnologiese Nostalgie

Tegnologiese Nostalgie – Die jonger generasie van vandag wonder altyd hoe ons ouers en voorouers dit reggekry het om sonder moderne tegnologie klaar te kom.

Nieteenstaande, sukkel die ouer generasie weer juis met die teenoorgestelde en beleef hulle ‘n bietjie nostalgie… Tegnologie verbeter daagliks, ‘n mens sukkel om by die nuutste neigings te bly. Van jou huishoudelike toestelle, voertuie en ook die ou bekende…selfone, verbeter daagliks. Basies enigiets kan deesdae deur ‘n rekenaar of ‘n tegnologiese toestel hanteer of bestuur word.

In die ou dae was mense gedwing om ‘n verskeidenheid items of toestelle te gebruik om een funksie te verrig. Masjinerie was deur hande arbeid bestuur. Geen gerieflikheid van “at the press of a button”, soos ons dit vandag tot ons beskikking het nie. Selfone kan vandag omtrent enigiets onder die son verrig, deur net ‘n knoppie te druk. En net toe die generasie gewoond raak aan die knoppie- metode, toe val dit ook weg, en is die knoppies sommer direk op die selfoonskerm…

As kind was daar nog bordspeletjies gespeel en buite gebaljaar. Vandag, het als verander, jy kan sommer al die speletjies “download” en in die gerief van jou bed lê en speel. Wat van jou telefoongids? Waar is die boekies heen wat ‘n mens fisies nog die nommer moes opsoek, en wie gebruik nog die Telkomtelefoongids in vandag se dae? Weereens is dit ook net ‘n “app” ver en al jou nommers verskyn voor jou, presies soos jy dit wil hê.

Die gebruik van ‘n sakrekenaar het ook by die agterdeur uit verdwyn. Om in vandag se dae nog ‘n CD te besit is buitengewoon, want als is mos op “iTunes” beskikbaar of hoe? Jy kan dit direk na jou selfoon toe stuur, en siedaar – jou gunsteling liedjie – direk op jou selfoon. Die funkies van hedendaagse selfone is oneindig. Ongelukkig het tegnologie sy nadele ook.

Die mensdom se vermoë om met mekaar te kommunikeer . . . Gesinne wat saam om ‘n etenstafel sit, stiltetyd hou, of saam speletjies speel in die buitelug, word as vreemd aanskou. Tegnologie is ‘n wondermiddel om te gebruik juis omdat ‘n mens nie daarsonder kan klaarkom nie. Die tye het net té veel verander en ons het nie ‘n ander keuse as om daarby aan te pas en (saam met dit) te groei nie.

Tegnologie kan ongelukkig nie ons geliefdes nader aan ons bring nie, dit kan ook nie ons gesinne geliefd laat voel nie. So, op die ou einde, bly kommunikasie en samesyn die beste manier om eendag op ons oudag te kan terugkyk na vroeër jare? Met ‘n bietjie nostalgie…