HPR Winterbal

HPR Winterbal – Ek beloof jou die son, maan en die sterre. Dit was op ‘n koue wintersaand, in die hartjie van Piet Retief, waar die galante here van ons skool, op hulle knieë aan die pragtige meisies bogenoemde trou beloof het.

En hét hierdie STERRE van Hoërskool Piet Retief nie geblink onder die helder sterre aan die hemelruim nie.Op 16 Mei 2016 was dit weer die tradisieryke jaarlikse Winterbal wat aangebied is deur die Kultuurraad, waar die Gr. 8’s ook kon deel hê aan hierdie eerste (vir hulle) glansryke geleentheid. Die Hotelskool was getransformeer tot ‘n helder hemelruim met verskietende sterre net waar jy kyk.

Sterre het in elkeen van ons pragtige kinders se oë geblink en die rooi tapyt het geskitter van asembenemende tabberds, skoene, juwele, krone en dies meer. Die Cannes-rolprentfees op sy beste…. Tannie Linda en Wian het hulleself weer oortref en vir ons ‘n heerlike warm ete voorgesit, uit die boonste gestoeltes en vir nagereg (elke kind se droom) ja, sjokolademousse!

‘n VYFSTER ete! ‘n Geduldige meneer Venter en tannie Hettie was getrou op hulle pos agter die kameralens, om elke jong paartjie se herinneringe van dié aand vas te vang op kamera. ‘n Spesiale dank gaan aan juffroue Louret en Nqobile wat hierdie onvergeetlike aand onder die sterre, saam met die Kultuurraad 2016, vir ons moontlik gemaak het.

Klaas Vakie het sy sandjies begin strooi, die sterretjies het een vir een begin knipoog, ophou flikker en begin val, die liggies het stadig begin verdof tot alles uitgedoof was… Die sterre wink vir jou!! Annémi Nell