Oliekolle en reenboe
Oliekolle en reenboe

Die baie swaarmotorvoertuie wat oral in die dorp se strate parkeer mors dikwels ook maar – skroewe en vere (“springs”) en les bes oliekolle, is aan die orde van die dag.

So word ‘n hele paar olierige vlekke in die teerstrate opgemerk deur diegene wat graag soggens stap. Dan wonder ‘n mens onmiddellik wat sal gebeur indien ‘n motoris skielik rem trap juis wanneer sy/haar voertuig so ‘n oliekol tref … dit kan báie gevaarlik wees, veral nadat dit ‘n bietjie gereën het … Verder is die gedagte daaraan dat dié olie, of wat ookal, weggevoer word na ons waterbronne (wanneer goeie reëns dit meevoer na die stromwaterslote en verder) skrikwekkend.

Onlangs, na ‘n lekker buitjie reën, word so ‘n oliekol in Kotzestaat opgemerk en onmiddellik snel die gevare verbonde aan die kol die gedagtes binne. Daardie plek is mos nou ekstra glad! Dan vang die oggendsonnetjie se strale die kol en siedaar, die allermooiste, pragtigste reënboogkleure lê daar in die pad. Nou word daar vinnig nader gestaan met die kamera om dié verskynsel in beeld vas te lê. ‘n Verbaasde man op die sypaadjie wonder wat makeer dié vrou met die kamera en die oliekol …

Wanneer hy op die pragtige kleure gewys word, kom die antwoord, “Oh, yes! The rainbow!” En dan wonder mens, sien ons net die oliekolle in die lewe of kyk ons soms ‘n bietjie verder? Die mooi in hierdie kol het miskien nie die gevaar weggeneem nie, maar het tog ‘n bietjie plesier verskaf. Dit is dalk tóg net die moeite werd om verby die moeilikhede in die lewe te kyk en dit wat mooi en goed is, ons seëninge, weer raak te sien en te waardeer. Intussen, is dit raadsaam vir elkeen wat bestuur, om baie versigtig te wees, veral op nat paaie.