Drie wyse dames tree uit
Drie wyse dames tree uit
Ná etlike lange jare, kollektief byna ‘n 110, van suksesvolle onderwys, het drie van ons plaaslike onderwyseresse afgetree om ‘n welverdiende ruskans te geniet.

Mevrou Christine Ingram (gebore Dercksen) het na 42 jaar diens in die onderwys, aan die einde van Januarie 2016 afgetree. Sy het vir byna alkeen wat die afgelope 28 jaar skoolgegaaan het te Hoërskool Piet Retief, óf Engels gegee óf geleer hokkie speel of hekkies hardloop. Mevrou Ingram is in Kimberley gebore, maar voltooi haar skoolloopbaan aan die destydse Hoër Handelskool te Vereeniging. Dié skool het haar naamlik gevra om vir hulle te kom hokkie speel nadat sy aanvanklik in Hoërskool Vereeniging was. Sy het reeds vanaf standerd 9 (graad 11) vir die dorpspan in Vereeniging hokkie gespeel. Die Ingrams het beide te Alberton skoolgehou, toe Mnr. Joe Ingram die adjunkhoofpos te Laerskool Piet Retief in die laaste termyn van 1985 aanvaar het. Mevrou Ingram was sedert 1986 verbonde aan die hoërskool en het uitstekende uitslae behaal. In die Engelse klas het sy veral gepoog om kinders lief te maak vir lees en hulle geleer opstelle skryf – “creative writing”. Sy het nooit met dissipline gesukkel nie en haar raad aan jong onderwysers is: “Hou skool met gesag, van die begin tot die einde. Die onderwyser/ kindverhouding is geweldig belangrik.” Sy beskou Hugo Küsel as haar absolute mentor en sê dat haar jare te HPR absoluut fenomenaal was en die personeel soos een groot familie. Tans hou sy haar besig met allerlei takies in en om die huis (sy is baie lief vir kos kook) en spandeer baie kosbare tyd saam met die kleinkinders – hulle twee seuns se kinders. Eendag wil sy en Mnr. Ingram, haar eggenoot van die afgelope 40 jaar, ‘n treinreis onderneem …

 

Mevrou Rita van den Berg (gebore Du Plessis) is in Swaziland, te Hlatikulu, gebore.

Sy was aanvanklik in ‘n Engelse skool, Sir Evelyn Baring, tot aan die einde van graad 5. Vanaf graad 6, die outydse standerd 4, was sy in Laerskool Piet Retief en het tot in matriek, te die Hoërskool Piet Retief, in die koshuis Mev. Rita van den Berg gewoon. Sy is slegs koshuisnaweke en vakansies huis toe. Dit is hier, in Piet Retief, waar sy met “Die Stem” kennisgemaak het en geweet het, dít is waar sy wil wees. Die “Groot Trek” het haar so geïmponeer dat sy nagmerries gekry het. Die eerste fliek wat sy gesien het oor die Afrikaanse taal was, “Doodkry is min”. Dié fliek het sy in die destydse teater in Markstraat gesien! Sy het ook haar eggenoot, André (nou oorlede), in Piet Retief ontmoet. Mevrou van den Berg het te NKP in Pretoria studeer en aanvanklik te Hoërskool Piet Retief Geskiedenis gegee. Sy het die onderwys tydelik verlaat om kinders (twee seuns) groot te maak en toe weer by HPR ingeval. Vanaf 1985 tot aan die einde van 2015, was sy verbonde aan Laerskool Piet Retief as Afrikaans- en Geskiedenisonderwyser. Sy is baie lief vir sport en het provinsiale kleure verwerf in hokkie en ringtennis en het ook ‘n eretoekenning ontvang vir atletiek. Sy het in laasgenoemde ook kursusse aangebied. Haar raad aan jong onderwysers is dat jy altyd betyds, voorbereid en ‘n goeie voorbeeld moet wees. “Konsentreer op ‘n kind se positiewe eienskappe (die negatiewes wat daar moontlik mag wees, word dan self later positief).” Mevrou van den Berg het haar tyd by die laerskool ongelooflik baie geniet en het groot respek vir haar kollegas. Sy sê sy het baie ondersteuning en aanmoediging van Mnr. Roodt ontvang. Hy skep ook geleenthede sodat onderwysers hulle werk na die beste van hulle vermoëns kan doen. Die kinders se waardering was ook altyd vir haar ‘n riem onder die hart. Tans hou sy haar besig met skryf …

plaaslike onderwyseresse
Mev. Rita van den Berg

 

Mevrou Susan Paquet (gebore Sandenberg) is bekend as wiskunde onderwyseres en tennisafrigter in die hoërskoolgeledere.

Aan die einde van 2015 het sy afskeid gneem van Hoërskool Piet Retief na byna 30 jaar. Mev. Susan Paquet Sy is in Kaapstad gebore en het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. As dogter van ‘n predikant, het sy gou die Transvaal leer ken, toe haar pa ‘n beroep na onder andere, Germiston aanvaar het. Sy het dan ook in Vereeniging en Germiston skoolgehou en ook ‘n draai in Ermelo en Pretoria gemaak. Sy het vir twee jaar by Uraanverryking te Pelindaba gewerk – die enigste vrou tussen ‘n klomp ingenieurmanne. Sy het haar elke dag op die bus, werk toe en terug, met ‘n handwerkie besig gehou. Susan en haar eggenoot, Mnr. Arthur Paquet (nou oorlede) het in Pretoria ontmoet en in 1980, in die Paquetwoning “Die Bult”, Piet Retief, ingetrek. Dié huis was vir baie jare in die Paquetfamilie se besit. Terwyl sy aanvanklik kinders (drie seuns) grootgemaak het, het sy soms as onderwyser by die plaaslike hoërskool afgelos, maar vanaf 1986 was sy een van die wiskundeonderwyseresse by Hoërskool Piet Retief, byna 30 jaar lank. Sy meen die uitdaging as wiskundeonderwysers is om al die kinders in ‘n klas te lei tot hulle verstaan en eindelik tot hulle blom. Sy sê ook dat ‘n mens altyd positief moet bly. Die jare by die hoërskool was vir haar baie aangenaam. Sy het fantastiese kollegas gehad wat ook vir haar vraestelle getik het! Mevrou Paquet is lief vir naaldwerk en lees graag. Sy maak pragtige rokkies vir haar kleinkinders en beoog om dit een van die dae self Qatar toe te neem…

plaaslike onderwyseresse
Susan Paquet

Ons groet hierdie drie staatmakeronderwyseresse, met soveel kennis en wysheid in pag, maar roep hulle nie vaarwel toe nie. Julle het diep spore in baie se lewens getrap en die kwaliteit daarvan word baie waardeer. Ons is dankbaar en bly dat julle nog deel is van hierdie gemeenskap. Geniet julle welverdiende aftrede.