Hannée van Blerk
Hannée van Blerk

Hannée van Blerk, hoofmeisie van Hoërskool Piet Retief, is so pas aangewys as ‘n finalis in ‘n landwye kompetisie waarin gesoek word na 2015 se matrikulant van die jaar.

Sy en die ander 13 finaliste van skole regoor die land sal die naweek van 2-4 Oktober op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat aan ‘n verkeidenheid leierskapstoetse en ander evaluerings onderwerp word. Die wenner, wat op Saterdagaand 3 Oktober tydens ‘n Galadinee aangewys sal word, se pryse sluit ‘n oorsese reis vir 2 persone, die gebruik van ‘n Volkswagen Polo Asvir ‘n jaar, R10 000 se prysgeld, ‘n studiebeurs ter waarde van R12 000 asook ander geskenke in.

Al die ander finaliste sal pryse ter waarde van R25 000 elk ontvang. Die doel van die kompetisie, wat deur die Volksblad en Universiteit van die Vrystaat aangebied word, is om veelsydige uitblinker- matrikulante vir hulle harde werk en veelsydigheid op die terreine van akademie, sport , leierskap en kultuur te beloon. Hannée was in sowel die laerskool as hoërskool hoofmeisie, presteer baie goed in haar akademie en het tydens haar hoërskoolloopbaan vir drie agtereenvolgende jare die Mpumalanganetbalspan by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe verteenwoordig.

Tydens haar laers koolloopbaan was sy twee keer die Mpumalangakampioen in verspring in haar ouderdomsgroep en het sy in 2007 tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op Pilditch die Mpumalanga- verspringrekord vir dogters onder 10 verbeter. Sy het ook vroëer vanjaar ‘n derde plek behaal in die Mpumalanga Junior Sjef-van-die-jaar kmpetisie. Hannée is gekeur om volgende jaar fisioterapie aan die Universiteit van die Vrystaat te gaan studeer en sal saam met haar sussie Rona, wat in 2012 naaswenner was in dieselfde Matrikulant van die Jaar-kompetisie, in Soetdoringdameskoshuis tuisgaan.