Alhoewel daar die vorige week geen ernstige motorongelukke aangemeld is nie, is daar verlede week vier aangemeld – almal op die N2 tussen Piet Retief en Ermelo.

Op Dinsdag, 25 Augustus, het ‘n wit Polo Vivo om ongeveer 05:00, vanweë ‘n onbe-kende oorsaak, gerol. Voor die ongeluk het die motor in die rigitng van Piet Retief beweeg. Met die aankoms van nooddienspersoneel op die toneel, was die bestuurder reeds skoonveld.

Vermoedelik het hy of sy ‘n geleentheid gekry, dalk selfs hospitaal toe. ‘n Interessante brokkie inligting in hierdie geval, is dat dit duidelik is dat die motor se wiel uitgebreek het, maar ook dat die buiteband vermoedelik na die ongeluk verwyder en dus waarskynlik gesteel is.

Die wiellose motor na die ongeluk
Die wiellose motor na die ongeluk

Vier voertuie was betrokke in ‘n ongeluk wat plaasgevind het op Vrydag, 28 Augustus. Die ongeluk het ongeveer 13:00 plaasgevind toe ‘n Renault (Clio) oppad na Ermelo vermoedelik ‘n ander voertuig wou verbysteek.

Daar was nie ‘n sperstreep nie, maar om een of ander rede was dit blykbaar nie ‘n veilige opsie nie en ‘n bosing het plaasgevind met ‘n Ford bakkie wat vermoedelik van die teen-oorgestelde rigitng gekom het. Die bestuurders van onderskeidelik ‘n Mercedes en Opel Astra het probeer om verdere botsings te vermy, maar kon nie heeltemal betyds daarin slaag nie.

Die Mercedes het ook vermoedelik met die bakkie gebots. Die Opel is net bietjie van die pad af en kon verder ry nadat noodpersoneel die voertuig weer op die pad kon terughelp. Twee persone is tydens hierdie motorongeluk beseer, een redelik ernstig en die ander een lig.

Skade aan die Mercedes
Skade aan die Mercedes

Daar het twee motorongelukke plaasgevind op Sondag, 30 Augustus. Die oorsaak van die eerste ongeluk, wat om 12:00 plaasgevind het, is onbekend. ‘n Volkswagen motorvoertuig wat vanaf Ermelo in die rigting van Piet Retief beweeg het, het die pad verlaat en tussen die bome in beweeg.

‘n Boom is tydens die ongeluk letterlik “afgery” (hier was geen saag of byl betrokke nie). Die boom het na die ongeluk in sy lengte langs die pad gelê. Die motor se masjien, lugversorger en wisselstroomreguleerder (“engine, air conditioner and alternator”) het tussen die bome gesaai gelê. Die insittendes tydens die ongeluk, was ‘n moeder en ‘n kind en volgens wat verneem word is die moeder redelik ernstig en die kind minder ernstig beseer.

Die enjinlose Volkswagen in die plantasie
Die enjinlose Volkswagen in die plantasie

DSC09212