spoedwal
hierdie motor het pas hoorbaar geskuur teen die spoedwal voordat die wiel dit gelig het

‘n Buitengewoon hoë spoedwal in Kotzestraat het al heelwat skade aan verskeie motors aangerig.

‘n Ontstoke Mnr Vic Möhle het by die Excelsior Nuus kom aanklop nadat sy duur ingevoerde BMW sportmotor baie erg beskadig is toe hy oor die spoedwal moes ry. Die motor se ingewikkelde vertakte uitlaatstelsel (“banana branch”) is dermate beskadig dat dit nou opgelaai moet word Pretoria toe vir herstel, in plaas daarvan dat Vic self die motor Pretoria toe kan ry.

Die onderdele en herstelwerk aan die motor is ongelooflik duur en beloop etlike duisende rande. Vic sê hy het al met die Munisipaliteit gekommunikeer in hierdie verband, maar dit het tot dusver nie juis iets positief opgelewer nie. Met ‘n ondersoek ter plaatse is gevind dat daar wel ‘n waarskuwingsteken is, aan die kant van die pad op die sypaadjie, in Kotzestraat, sowat 100 treë voor die bult, ‘n paar treë voor die aansluiting met Brandstraat. Daar is egter geen waarskuwing direk by die spoedwal nie en ook geen waarskuwing dat dit ‘n buitengewoon hoë spoedwal is nie.

In die rukkie wat ons daar langs die pad spandeer het, het verskeie motors oor die wal geskuur, sodat die motors hoorbaar gekrap of selfs beskadig is. Daar is ook duidelike tekens op die wal dat dit dikwels deur voertuie gekrap word. Daar is sekerlik meriete vir die bestaan van die spoedwal, om groot vragmotors se spoed te vertraag voor hulle in Brandstraat indraai. Die vraag word egter gevra of dit werklik heeltemal so hoog moet wees? Behoort daar nie ook duideliker waarskuwingstekens te wees of alternatiewe roetes aangedui te word vir die gewone motoris met gewone motors wat nie vierwielaangedrewe of hoëbakvoertuie is nie?

Van hier kan die spoedwal nog nie waargeneem word nie en is daar geen aanduiding van hoe hoog dit is nie
Van hier kan die spoedwal nog nie waargeneem word nie en is daar geen aanduiding van hoe hoog dit is nie
Diespoedwal is reeds goed weggeskuur
Diespoedwal is reeds goed weggeskuur