Padhardloopnuus

Padhardloopnuus – “Dis heerlike lente, die winter is verby.”

Die lente sal verseker na die eerste ordentlike lentereën nog sommer baie heerliker wees, terwyl die lek-kerte van die lente heel waarskynlik nog ‘n slag of wat deur laat porsies winter bederf sal word.

Wat egter vas staan, is dat die lente wel minstens begin aanbreek het en dat die tekkiedraers eenvoudig paslik daarop sal moet reageer. Laat waai, Assegaai! Lede van die blitspatrollie, slakke sowel as onafhanklike kandidate het so vir die laaste maand of wat nagenoeg die volgende agenda gevolg:

  • Tydtoetseop Dinsdagoggende vanaf die hek van die hoërskoolkoshuis en wel om 05:00.
  • Spoed- of ander sessies op Donderdagoggende vanaf Sheldon Hallis se sypaadjie en wel eweneens om 05:00.
  • Langer afstande (wat egter nog nie noodwendig lank was nie) op Saterdagoggende vanaf Sheldon se sypaadjie en wel om 05:00 of dalk ‘n effe later.

Daar doen tans gerugte die rondte van ‘n verdere aanslag op die Golden Gate Challenge (drie skofte op drie agtereenvolgende dae en wel in die Oos-Vrystaatse bergwêreld) aan die einde van Oktober en ‘n uittog Laeveld toe vir die Kaapsche Hoop marathon en halfmarathon, aan die begin van November.

Dit wil voorkom asof die intensiteit waar-teen daar gehardloop word nou sal moet begin verhoog. Dalk sal vader tyd se geduld nie meer heeltemal so erg tydens die tydtoetse beproef word nie. Intussen moet almal wat moontlik belang stel (en daar is beslis talle) solank deeglik kennis neem van 16 September.

Die pretdrafseisoen het aangebreek en ons volgende aandpretdraf sal daardie aand om 17:30 vanaf die Piet Retief Rugbyklub plaasvind. Kry dus maar solank die litte los!