Silwerjare Dienssentrum geniet samekoms

Silwerjare Dienssentrum geniet samekoms

Silwerjare Dienssentrum geniet samekoms. “Niemand is immuun teen oud word nie, dit gebeur met almal en dit gaan met julle ook gebeur. Met ’n goeie leefstyl kan ’n mens darem goed oud word” – Oom Johan Engelbrecht.

Op Donderdag, 23 Mei, het die lede van die Silwerjare Dienssentrum bymekaargekom vir ’n prettige oggend van saamkuier en lekker eet. Die dag is geopen met wyse woorde oor aftree en aantree uit ’n dagboek.

Die stuk het gegaan oor die belangrikheid van die ouer geslag in vandag se samelewing. Die aantal bejaardes word al hoe meer terwyl die aantal kinders afneem. Ouers begin al hoe meer na oupa en ouma draai vir die rondry van die kleinkinders en hulle word ook gebruik as gratis versorging van kleinkinders wat nie ’n ander heenkome het nie.

Silwerjare Dienssentrum geniet samekoms
Die mense geniet ‘n heerlike ete by The Diner

Wat min mense besef is dat wanneer jy aftree, jy van vooraf begin leef. Jy is baie beter toegerus om die lewe aan te pak as in jou jonger dae. In jou silwerjare lag jy makliker omdat jy besef dat die lewe nie so ernstig is nie, jy weet wat werklik belangrik is, jy kompeteer nie met wêreldstandaarde nie en jy kan klaarkom met baie minder aardse besittings.

Die jare maak ’n mens “sagter” en in jou ou dae vra jy minder en gee makliker. Om jou dienste vir jou medemens aan te bied is vir jou net ’n plesier, want jy weet dat almal deur moeilike tye gaan en jy is mos self ook al daar deur. Wysheid maak ’n mens vriendelik en dit was opmerklik in die glimlagte van die groep wat die oggend bygewoon het. Die byeenkoms is afgesluit met ’n gebed en almal het na The Diner gegaan vir ete.

Hulle wil graag vir Willem Grobler bedank vir die heerlike maaltyd wat hy geborg het. Die volgende samekoms vir die Silwerjare Dienssentrum sal op Donderdag, 30 Mei plaasvind en dit sal ’n “bring en deel”- braai wees. Dankie ook aan al die ander borge wat dit moontlik maak vir die Dienssentrum om hierdie byeenkomste te kan geniet.