Die Lekkerbekkers kuier in Piet Retief

Die Lekkerbekkers kom kuier in Piet Retief

’n Deel van Measrochstraat is op Vrydag, 17 Mei vir die publiek gesluit en omskep in die asemrowendste Lekkerbekkers straat-restaurant.

Hierdie Lekkerbekkers inisiatief is deur Charlene Putter geneem nadat die beheerliggaam van Laerskool Piet Retief genoem het dat hulle graag fondse vir die skool wil insamel gedurende die jaar van 2019. In samewerking met Shirley Scheepers het die twee dames seker gemaak dat al die gaste ’n lekkerbekker- aand kon geniet.

Vir weke lank het inwoners van Piet Retief uitgesien na die koms van Jamandi en Machiel Bekker van die Langtafel se Lekkerbekkers. By mooi gedekte tafels het 200 gaste heerlike “gourmet” pizzas, vrolike musiek en ’n vertoning deur een van die Laerskool se koorgroepe geniet. Warm drankies en vure het die gaste op dié herfsaand warm gehou terwyl hulle gesellig gekuier en gewag het vir die smullekker kos.

Jamandi en Machiel mag maar kook en kan gerus weer in Piet Retief kom kuier. Laerskool Piet Retief wil graag al die borge bedank wat dié aand van fondsinsameling moontlik gemaak het. Hulle bedank ook die koshuispersoneel wat die kinders vermaak het sodat die gaste ’n besonderse aandjie kon geniet.