Kyk Nou! Sing in Harmonie

Sing in Harmonie

Op Dinsdag, 14 Mei 2019, het Laerskool Piet Retief aan die “Sing in Harmonie” koorkompetisie deelgeneem.

Ander skole wat ook deelgeneem het, was Hoërskool Pionier, J.J. van der Merwe en Lukas Meyer. LPR het gasheer gespeel vir hierdie aand. Die kompetisie het om sesuur begin en is regstreeks uitgesaai. Dit sal weer oor twee maande op Suid-Afrikaanse televisieskerms verskyn op Kyknet, kanaal 146.

Anthonie Bougas was die aanbieder van die aand en die kinders het werklik hulle beste stemmetjie gegee. Die saal was volgepak met 350 mense wat kom luister het hoe die kinders hulle harte uitsing. Laerskool Piet Retief se senior koor het “Saai die waatlemoen” en “You unravel me” gesing terwyl hulle junior koor die “God is so good medley” en “Suikerbossie” gesing het.

Hulle was goed voorbereid en het ’n lieflike vertoning gelewer. Die ouers was nie die enigstes wat so gedink het nie, aangesien albei hierdie kore deur is na die finaal wat op 13 Oktober gehou sal word by Gold Reef City.

By die finaal, sal die kore ook saam met van Suid-Afrika se bekendstes optree. Van die skool se kant af, wil hulle graag almal bedank wat opgedaag het om die aand te ondersteun.

Dankie ook aan die onderwysers wat seker gemaak het dat die kinders hul goed van hul taak gekwyt het en ook aan die kinders wat so besonders opgetree het.

Ons sien saam met julle uit na die finaal en glo dat julle weer net julle beste sal lewer.

Artisticulta Redenaarskompetisie

Die Artisticulta Redenaarskompetisie is vanjaar vir die eerste keer aangebied in Piet Retief. Dinsdag, 7 Mei, het altesaam 31 redenaars vanuit onder andere Laerskool Piet Retief, onderleiding van Juffrou Roelien Labuschagne, STAGEkidz en privaat inskrywings van Hoërskool Piet Retief vir die kompetisie ingeskryf.

Die Artisticulta Nasionale Kunstefees het drie jaar gelede ontstaan en bevorder musiek, dans, drama en redenaars op nasionale vlak. Met meer as 1 200 nasionale inskrywings vanjaar, is die kompetisie straf.

Beide beoordelaars en die Voorsitter, At Strydom, was beïndruk met die plaaslike talent. Leerlinge sal later die kwartaal hoor wie deurgedring het na die Finaal. Die organiseerders wil net vir die lede van St. John’s Anglican Church bedank vir die gebruik van hul kerksaal.

Laerskool Piet Retief neem deel aan rugbyproewe

Vanaf 16-18 Mei 2019, het drie van Piet Retief Laerskool se rugbyspelers aan proewe gaan deelneem by die Woodburn Rugby Stadion in Pietermaritzburg. Stefan Moolman is gekies om vir die 0/12A Sharks-span te speel, hy was ook die kaptein van die NKZN-span (Noord-Natal) en is aangewys as die speler van die toernooi.

Ruben Vorster en Gilles van der Meulen is gekies vir die O/12B Sharks-span. Baie geluk! Ons is baie trots op julle, sterkte met die wedstryde wat julle as Sharkies gaan speel!

Laerskool Piet Retief neem deel aan rugbyproewe
Die drie spelers wat vir aan die proewe deelgeneem het