Debutante 2019

Debutante 2019

Vir die eerste keer sedert 2002 is die dormante debutante – tradisie weer aan die gang gesit – hierdie maal met ‘n moderne kinkel of twee (onder andere dat daar dié keer ook ‘n manlike “debonair” in die mengsel was).

Só het vier onbaatsugtige leerders van Hoërskool Piet Retief dié voorreg en geleentheid die afgelope jaar met albei hande behoorlik aangegryp!

Hierdie vier (huidige) matriekleerlinge het ‘n groot gedeelte van hul besige jaar opgeoffer om te verseker dat die fondse vir die bou van ons splinternuwe saal ‘n groot hupstoot kry. Tientalle fondsinsamelings is deur hulle kreatiewe inisiatiewe bewerkstellig vir hierdie goeie doel: van ‘n gholfdag en ‘n “colour run”, tot “hamburger drive thru”, tot ‘n komediant en motiveringspreker of twee wat ons kom betower het, tot die geleentheid om van ‘n bok tot ‘n wegbreekvakansie te wen en ook kliphard by ‘n Ed Sheeran-konsert te gaan sing.

Debutante 2019
Tiaan saam met sy ouers

Na al die bloedsweet en rande wat behoorlik ingerol het, is ons eie onbaatsugtige “geldmasjiene” vereer tydens ‘n weelderige bal by TWK Welverdiend op die 7de Mei – met kos, ‘n orkes, dekor en uitrustings wat Aspoestertjie – en vriende op hul neuse sal laat kyk! Op die ou end moes daar een wenner uit die stryd tree, alhoewel almal van hulle as laasgenoemde beskou kan word.

Ons eie debonair, Tiaan Janse van Vuuren, het, as wenner, ‘n allemintige bedrag van R67 135 ingesamel, terwyl Melissa Erasmus ‘n stewige bedrag van R64 875 ingesamel het. Elzé van Eeden en Miéke van der Walt het ‘n reuse, gesamentlike bedrag van R85 768 ingesamel. ‘n Kolossale bedrag van R217 778 is altesaam deur hierdie vier ingesamel (dit is ‘n HELE paar boubakstene!)

Elkeen van hulle is behoorlik beloon met onderskeidelik ‘n oorsese reis vir twee ter waarde van R20 000, ‘n naweek weg vir 10 mense na Harloo Safari’s in Pongola en wegbreeknaweke vir vier na Hippo Hollow Country Estate in Hazyview en Nkonyeni Golf Estate in Swaziland.

Sonder ons goedhartige borge wat hul hande en harte vir hierdie goeie doel oopgemaak het, sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Ons wil egter as HPR ook graag elkeen van ons borge en die reeks mense wat hierdie aand moontlik gemaak het, opreg en hartlik bedank. Ons is gebore om spore te los en in díe geval word die permanensie van die voetspore wat agtergelaat is, nie bevraagteken nie!